100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Nog ‘n polisielid in Mpumalanga gearresteer

Written by on June 13, 2020

‘n Polisieman is Donderdag borgtog toegestaan nadat hy vir die handel van dagga en besit van onwettige sigarette aangekeer is.
Konst. Ntokozo Zungu (36) wat aan ‘n polisiestasie in KwaZulu-Natal verbonde is, het borgtog van R5 000 gekry in die hof in Piet Retief.
Hy is Dinsdag saam met twee vroue van Eswatini, wat sonder dokumente in die land was, by die Mahamba-grenspos in hegtenis geneem.
Die twee vroue is glo deur die weermag opgemerk waar hulle sakke oor die grensdraad gooi.
Zungu was glo in uniform en het die sake in sy gemerkte polisievoertuig gelaai.
‘n Ondersoek het bevestig dat die sake vol dagga was. Hulle het ook onwettige sigarette gehad.
Die vroue is steeds in polisieaanhouding.
Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, sê verskeie polisielede is al sedert die begin van die grendelstaat in Mpumalanga in hegtenis geneem.

In totaal is meer as 11 000 mense in die provinsie vir die oortreding van inperkingsregulasies aangekeer.
Volgens Hlathi is ‘n vermeende smokkelaar van dwelms en sigarette Woensdag by die Lebombo-grenspos vasgetrek.
Daar was glo R1,5 miljoen se heroïen in sy vragmotor se enjin versteek. Dit is tydens ‘n roetine-ondersoek deur die polisie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se doeane-afdeling gevind.
Die 51-jarige man van Mosambiek sou Vrydag in die hof in Komatipoort verskyn.

Drank speel rol in misdaad
Die polisieminister wil die verkoop van alkohol weer onwettig laat verklaar.
Minister Bheki Cele voer aan dat ‘n ongewensde toename in sterftes aangemeld is, sedert die die opheffing van die verbod op drankverkope op 1 Junie
Cele het tydens ‘n perskonferensie hierdie week gesê dat 40 moorde op 1 Junie aangemeld is, 51 die volgende dag en Sondag, die eerste naweek na die verbod gelig is, 69.
Intussen is ‘n gemiddeld van tussen 20 en 30 moorde per dag aangemeld.
Die minister voer aan dat poging tot moord en geweld teen vroue ook gestyg het.
Volgens Cele is dit vir die polisie moeilik om huishoudelike geweld hok te slaan omdat hulle mense se gedrag in hul eie huise nie kan monitor nie.
Hlathi het bevestig dat hulle ook in Mpumalanga besorg is oor die toename in sterftes, hoewel hy nie die presiese getalle kon bevestig nie.

Moeti Mmusi, van die departement van gemeenskapsveiligheid, sê hulle verwag ‘n toename in dronkbestuur.
Volgens hom is daar sedert 1 Junie meer noodlottige ongelukke op die provinsie se paaie aangemeld, waarvan voetgangers deel was.
Mmusi voeg wel by dat hulle dit die amptelik aan alkohol kan toeskryf nie, maar hulle verwag ‘n toename in dronkbestuur.
Hy het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen vir mense om nie te drink en te bestuur of te loop nie.

 


×