100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mulders bedank gemeenskap op internasionale Angelsman-dag

Written by on February 15, 2021

Vandag is internasionale Angelsman-dag.
Jesslyn Mulder (7) van Mbombela, ly aan hierdie uiters seldsame genetiese mutasie wat die senuweestelsel aantas.
Volgens haar trotse pa, Hugo Mulder, kan Jesslyn op haar eie loop, maar sy kan nie praat nie.
Dié leerling aan Pro Gratia, was van 10 tot 14 Februarie die begunstigde van Mopani-apteek se liefdadigheidsuitdaging. Die virtuele uitdaging is verlede jaar van stapel gestuur om te help fondse insamel vir organisasies wie se bedrywighede deur die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperking gekniehalter is.

Volgens Mopani is Februarie juis die maand van liefde, en wou hulle daarom iets spesiaal vir Jesslyn doen.
Mense kon 5 km, 10 km of 21 km stap of draf óf 10 km, 30 km of 50 km fietsry. Dit sou van Maandag eers gekonsolideer word. Vir elke kilometer wat deelnemers afgelê het, sal die apteek R1 skenk vir klein Jesslyn se mediese onkostes.
Hugo het die gemeenskap vir hul betrokkenheid by en ondersteuning van die bewusmakingsweek bedank.

“Dit is regtig met ‘n goeie hart wat ons vir julle wil dankie sê,” aldus Hugo.
Angelsman-sindroom raak sowat een uit elke 15 000 babas wat gebore word, en in totaal na beraming 500 000 mense wêreldwyd.
“Die meeste kindertjies wat daarmee gediagnoseer word, begin eers op een jaar oud en ouer simptome wys,” vertel Hugo.
Dit sluit in epileptiese aanvalle asook ‘n gebrek aan vroeë ontwikkeling in terme van spraak en loop.
Jesslyn ontvang daagliks by Pro Gratia die nodige terapie, en het ook ‘n spesiale oppasser, Ayanda.
Om meer oor Angelsman-sindroom uit te vind, kontak Radio Laeveld of besoek die Jesslyn’s Incredible Journey-blad op Facebook.


×