100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mpumalanga skole gereed vir Covid, maar ander uitdagings bly

Written by on February 15, 2021

In terme van die Covid-19-pandemie het die afskop van die 2021 skooljaar Maandag vlot verloop, maar vele uitdagings staar steeds die provinsiale departement van onderwys in die gesig.
Die LUR vir onderwys, Bonakele Majuba, sê die uitstel van die akademiese jaar se begin het die onderwysdepartement genoeg tyd gegee om alle Covid-noodsaaklikhede in plaaslike skole in plek te kry.
Hy het Maandag saam met adjunkminister vir onderwys, dr. Reginah Mhaule, skole in die Mkhulu-area besoek. Die premier, Refilwe Mtshweni-Tsipane, het self by Sofunda Sekonder in Middelburg sanitêre produkte, skooluniforms, maskers, ontsmettingsmiddels en rekenaars oorhandig.
Sowat 1 miljoen leerlinge het vandag hul akademiese jaar in die provinsie afgeskop.
Verskeie uitdagings staar egter die departement in die gesig met 1 147 leerlinge wat nog in skole geplaas moet word.
“Ons hoop om die proses binne die volgende twee weke af te handel. Ons het taakspanne op distrikvlak wat dit hanteer,” aldus die LUR.
Majuba voeg by dat die vervanging van pittoilette by skole moontlik eers teen volgende jaar afgehandel sal kan word, weens die pandemie.

“Volgens ons beplanning moes pittoilette teen die einde van hierdie finansiële jaar vervang wees, maar weens Covid-19 ons sal dit met ‘n jaar moet verleng omdat die meeste geld wat daarvoor begroot was, op Covid-19 spandeer is,” sê Majuba. “Dit bly ons eerste prioriteit, omdat dit gevaarlik is.”
Hy noem dat 99 onderwysers verlede jaar in die provinsie weens die virus dood is.
Boonop is sommige onderwysers nie in Januarie betaal nie. Tydelike onderwysers sal glo hierdie week eers betaal word.
Nog ‘n uitdaging is dat toegang tot sowat 46 skole beperk is weens skade aan padinfrastruktuur weens die afgelope maand se swaar reën.
“Ons het alles menslik moontlik gedoen om ‘n omgewing te skep waar onderrig in alle erns vanaf die eerste dag kan geskied,” sê die provinsiale departement se woordvoerder, Jasper Zwane. “Ons sal aanhou om alle leerlinge vanjaar te ondersteun.”


×