100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mpumalanga se ekonomie kan met tot 7% krimp

Written by on June 23, 2020

Die provinsiale tesourie voorspel dat die plaaslike ekonomie in die huidige finansiële jaar negatiewe groei van tussen vyf en sewe persent sal toon.
Pat Ngomane, LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het Dinsdag sy toerismebegroting vir die 2020/21 finansiële jaar ter tafel gelê. Die jaar het op 1 April afgeskop.
Volgens Ngomane sal die meeste industrieë hierdeur geraak word, veral konstruksie, handel en toerisme, en vervaardiging.
Toerisme is ‘n groot bron van kommer met sowat 95% van ondernemings wat weens die grendelstaat daling van meer as 50% in hul omset teen die einde van Mei getoon het.

Toerisme is van kardinale belang vir die plaaslike ekonomie en Ngomane verwag ‘n groot aantal werksverliese.
Hy vergader daarom Donderdag met die privaat sektor en rolspelers in al Mpumalanga se distrikte om ‘n herstelplan vir die provinsie se toerisme te finaliseer.
Dit is egter ‘n hoë berg om te klim want die skade is massief, sê hy.

Ngomane voeg by dat die plan bemarking en finansiële hulp aan die “goudmyn” wat toerisme is, van die regering in sal sluit.
“Ons weet nie watter ondernemings sal oorleef nie. Vir die eerste keer werk ons baie nou saam met die privaat sektor.
“As toerisme so aanhou gaan ons erg geraak wees. Ons moet kyk wat ons kan doen om toerisme te help oorleef.”

Die provinsiale departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme het ‘n totale begroting van R1,4 miljard vir die jaar.
Daarvan is R19,5 miljoen aan ekonomiese ontwikkeling toegeken.
Aan toerisme is R413,2 miljoen geallokeer, waarvan R407,6 miljoen Mpumalanga se Toerisme-en-Parkagentskap (MTPA) befonds.
Die provinsiale regering het ook ‘n addisionele R65 miljoen van die nasionale departement van omgewingsake, bosbou en visserye ontvang om toerisme-infrastruktuur op te gradeer.


×