100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mbombela-kring verbeter matriekslaagsyfer

Written by on February 23, 2021

Die matriekslaagsyfer vir die klas van 2020 het aansienlik gedaal.
Mpumalanga se slaagsyfer het met meer as ses persentasiepunte verminder tot 73,7%. Nasionaal het dit vyf persentasiepunte gedaal tot 76,2%.
Skole in die Mbombela-kring kon egter verbeter van 89,2% in 2019 tot 90,3%.
Die provinsie se uitslae is vanoggend deur die LUR vir onderwys, Bonakele Majuba, bekendgemaak.
Dertig skole het ‘n 100% slaagsyfer behaal, onder meer Hoërskool Nelspruit.
Magigwana Sekondêr in Thulamahashe is as die toppresterende skool in Mpumalanga aangewys. Buiten dat al die leerlinge geslaag het, het 211 van die 276 kandidate universiteitsvrystelling.
Majuba beskryf die 2020-skooljaar was die mees uitdagende ooit. Hy sê hele gemeenskappe is nodig om van skole ‘n sukses te maak.

“Die uitdagings wat Covid-19 gebring het se verskeie ontwrigtings het ‘n ernstige, verwoestende uitwerking op onderwys gehad.”
Hy het die sowat 33 000 onderwysers en ander werknemers in die departement uitgesonder dat hulle die skooljaar moontlik gemaak het.
Volgens die LUR is die slaagsyfer, gegewe die omstandighede, prysenswaardig.
Volgens streek sien die slaagsyfer so daaruit: Bohlabela en Nkangala 74,6%, Ehlanzeni 74,5% en Gert Sibande 70,9%.
Emakhazeni is met 88% die toppresterende munisipaliteit.
Lekwa Oos het die grootste verbetering (16,9%) getoon na 89,8%.
Die skool wat die meeste verbeter het is Machaye Sekondêr in Bosbokrand. In 2019 het net 26,5% van hul matrikulante geslaag. In 2020 is dit 81,3%.
Die 10 toppresterende leerlinge sowel as die beste in wiskunde, fisiese wetenskap, tegniese wiskunde, tegniese wetenskap en rekeningkunde, en die drie bestes van elk van die vier gratis kosskole in Mpumalanga, sal studiebeurse ontvang.


×