100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Luister weer: Nooddienste eersdaags meer toeganklik in Hazyview

Written by on April 20, 2021

Opwindende verwikkelinge is op die mediese horison vir Hazyview.
Die dorp kry eersdaags ‘n toegeruste noodkamer wat ingerig sal wees om kritiek siek pasiënte te kan behandel.
Dr. J.J. (Kobus) Hugo, wat die ontslape dr. Robbie Nel se praktyk op die dorp oorgeneem het, sê dit is baie meer as wat tans daar beskikbaar is, hoevel dit nie ‘n volle noodeenheid is nie.
Die praktyk is deel van die Lowmed-groep. Die nuwe noodkamer sal toegerus wees om ‘n pasiënt genoegsame behandeling te gee tot ‘n ambulans met ‘n paramedikus hulle hospitaal toe kan neem.
Hugo het vir Sanett vertel wat alles beplan word om die gemeenskap beter te dien. Luister weer hier na die gesprek.

Hugo het reeds in Desember, kort voor Nel se skielike dood in Januarie, met hom ooreengekom om die praktyk teen April oor te neem, sodat Nel meer tyd kon spandeer aan sy boerdery.
Nou het Hugo gesien wat benodig word in die Hazyview-area. Hy verduidelik die gebrek aan nooddienste.
“Dit neem minstens ‘n uur en ‘n half vir ‘n ambulans om ‘n baie siek pasiënt op te kom laai, want in ‘n krisis moet ‘n paramedikus by wees en hulle kom van Mbombela af.
“Terwyl hulle wag is die fasiliteite nie goed genoeg nie.”
Hy is tans besig om die spreekkamer op te gradeer. Die kamers word groter – weens Covid-regulasies, en die nuwe, groot noodkamer is bygebou.
Sou daar nou ‘n krisis ontstaan, is daar die nodige toerusting om ‘n pasiënt te stabiliseer, veral vir ongevalle te doen met mense se harte, longe en bloedings.
Hugo beplan om teen Maandag die spreekamer oop te maak vir pasiënte. Dit sal nog sowat twee weke neem vir al die toerusting om die noodkamer amptelik te kan oopmaak.
Hy gaan aan die einde van die maand ook weer sy vlieënierskursus opskerp en beoog om teen middel Mei weer met vliegmediese klaring voort te gaan – soos Nel altyd gemaak het.


×