100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

NHS se klas van 2020 gegroet

Written by on October 26, 2020

Hoërskool Nelspruit (NHS) het Woensdag hul prysuitdeling gehou.
Sport-, kultuur- akademiese- en diensleweringtoekennings is gemaak. Balkies, erekleure en spesiale erepennings is toegeken. Die toppresteerders het trofeë ontvang.
Weens inperking kon slegs die gr. 12’s en hul ouers asook die nuwe bestuurskomitee se ouers die funksie bywoon.
Die matriekgroep se laaste skooldag op 16 Oktober was met ‘n gepaste afsluitingsdiens, waarmee 12 jaar op die skoolbanke vir dié leerders tot ‘n einde gekom het.

Hierdie groep leerders word as onkeerbaar, onwrikbaar en onstuitbaar beskryf.
Alhoewel vanjaar vele teleurstellings ingehou het en ongewone uitdagings gestel het, het hierdie Nellies dit verwerk en elke bul gestorm en by die horings gepak.
Die kerkdiens is deur past. Shaun Adams van Church Unlimited gelei en hy het ‘n besonder treffende boodskap met die skoolverlaters gedeel.
Skoolhoof, Johan Hattingh, het hulle bedank vir die nalatenskap wat hulle in onseker tye kon laat.

Die hoofleiers, Milda van Dyk en Handré Homann, het ook vir oulaas ‘n beurt gekry om hulle graadgroep toe te spreek.
Daarna het hulle die trotse tradisie van die sluit van slotte aan die Vinculum-struktuur voortgesit.

Vanjaar se gr. 12-groep het elkeen ‘n goue slot aan die 2020 Vinculum-ketting gesluit, na afloop van die diens.
Hiermee sluit die Nellie sy kosbare kleinnood van kindwees af en met die onvermydelike progressie van tyd bind hulle hulself aan hul alma mater.
BUCO Nelspruit is die trotse borg van die slotte.
Die matrieks van 2018 het dié tradisie begin en die struktuur laat oprig.
Die hoofleiers het digitale foto’s in die 2020-tydkapsule toegesluit Dit sal tydens hul 10 jaar-reünie vertoon word.

Hulle het vir die skool ook ‘n unieke 3D-trofee as geskenk gegee.
Die drie halwe sirkels simboliseer die matriekseuns (die buitesirkel) se sekuriteit en standvastigheid as fondasie in enige familie; die dogters (middelsirkel) se samehorigheid en trots van ‘n familie; en die bestuurskomitee (middelsirkel) se volharding, geloof en deursettingsvermoë; om saam met ‘n span voor te kan loop.
Die hardekoolbasis en die NHS-masker wat in die middel pronk, staan vir die ongewone jaar van vasbyt, deurdruk met toewyding en baie aanpassings.
Dit is in die skool ontvangs se uitstalkas.
Besoek die NellieTV-kanaal vir beeldmateriaal van die geleenthede.

Foto’s: Hennie Homann


×