100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Innibos maak bietjie-bietjie ‘n terugkeer

Written by on October 25, 2021

Na twee jaar van geen Innibos Kunstefees nie, word daar van 1 tot 5 Desember Bietjie-Bietjie-Bos gehou.
Kaartjieverkope open Woensdag. Ongelukkig moet bywoningsgetalle op die feesterrein tans beperk word tot 2 000 mense. Om voorsiening te maak vir die kunstenaars en mense wat op die terrein werk, kan slegs 1 800 kaartjies beskikbaar gemaak word aan die publiek.
Sandra Jacobs sê sy sou graag baie meer mense wou verwelkom, maar hulle moet by inperkingsreëls hou.

“Die gees van Innibos sal in oormaat daar wees,” beloof sy. Soos altyd bied dit ook iets vir almal – of jy vier of 84 jaar oud is.
Daar sal drie aandkonserte op die gewone feesterrein wees (by Hoërskool Bergvlam). Die feesterrein sal 16:00 daagliks oopmaak, en kos, drank en stalletjies hê.
Die Vrydag tree Francois van Coke, Spoegwolf en Elandré op (onder meer), die Saterdag Snotkop, Karlien van Jaarsveld en Karen Zoid en die Sondagaand is ‘n Kersloffees.
Daar is ook teaterproduksies (“Groet die grotman” in die Sudwala-grotte), ‘n boeke-program, kunsuitstalling by Witrivier-kunsgallery, klassieke musiek (met Zanta Hofmeyr) by Christie’s Gastehuis, ‘n wynproe. Noem maar op.
Die program is gefinaliseer en is hier beskikbaar (kliek op die foto).

Jacobs sê dit is deel van die fees se mandaat om geleenthede vir kunstenaars te skep, iets wat hulle deur projekte soos ‘n liedjieskryf-kompetitie en In jou huis-konserte kon aanhou doen om vir hulle ‘n platform te skep.
“Een van ons doelwitte is ook om die ekonomie te stimuleer en dan is dit belangriker as ooit om vir mense vreugde te bring, vir hulle iets te gee wat na hul geestesgesondheid kyk.”
Bietjie-Bietjie-Bos beloof dus vreugde en die geleentheid om jou bolla vir ‘n slag weer los te maak.
Sy voeg by dat hulle reeds beplan aan die Innibos vir Junie, maar dit nie kan aankondig tot hulle die fees kán aanbied nie.
“Ons probeer om soveel as moontlik in plek te kry, maar ons wil redelik seker wees ons kan fees hou en ons is positief.”


×