100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Baanbreker Oz sterk goed aan na prosedure

Written by on October 26, 2021

Bewaring gaan oor veel meer as net sekuriteit. Wetenskap, kennis en opleiding speel ook ‘n belangrike rol, vertel Petronel Nieuwoudt van Care for Wild.
Dié veilige hawe se Oz, ‘n sesjarige renosterwesie, was verlede Dinsdag die proefkonyn waarop die eerste CT-skandering suksesvol uitgevoer is op ‘n lewendige, volwasse renoster in die land.
Nieuwoudt verduidelik dat daar as ‘n gevolg nou nuwe gereedskap is in die kissie om renosters teen uitwissing te red. Luister hier.

Dit het in Mei begin toe daar opgelet is Oz, wat reeds in die wild vrygelaat is, maar nog opgepas word, ‘n swelling aan sy gesig het.
Dr. Albertus Coetzee van West Acres Dierehospitaal het plate geneem, maar dit kon nie bevestig wat presies aangaan nie.
“Toe dink ons, ‘Kom ons vind uit of so iets al gedoen is’,” sê Nieuwoudt.
Hulle het hom geweeg, sy kop gemeet en die ongelooflike logistieke proses aan die gang gekry.
“Eerste was dit, gaan hy inpas? Toe moes ons uitwerk hoe hy op dit gaan lê. Ons moes permitte kry. Dit was ure se beplanning.
‘n Sleepwa en kraantrok is gereël. Gelukkig kon Oz self in die sleepwa inloop. Daar is in ‘n groot konvooi afgesit na Onderstepoot by die Universiteit van Pretoria.
Die volgende oggend het hulle hom gestap van die boma af waar hy die vorige aand gehuisves is. Nieuwoudt sê, soos vir ‘n wafferse ster, is spesiale sekuriteit vir hom gereël.

Die volgende oggend kon hulle hom stap na die teater toe.
‘n Klomp spesialiste was betrokkke: dr. Jacques O’Dell, prof. Gerhard Steenkamp en Louis van Wyk van Wildlifevets onder andere.
Die probleem blyk toe te wees dat een van sy melktande het nog nie uitgeval nie en dit het ‘n abses veroorsaak. Die tand is sommer dadelik getrek.
Terug by die huis het hy aaneen met sy maats “gesels” oor die ervaring. Volgens Nieuwoudt lyk dit ook asof hy veel beter voel sonder die tand.


×