100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Hoftolk in die hof, drie mans ontsnap uit polisieaanhouding

Written by on April 21, 2021

Drie mans het Maandag uit polisieaanhouding ontsnap by die Volksrust-landdroshof.
Hulle sou verskyn op klagte van sakeroof en besit van ‘n gesteelde voertuig. Vier mans het aanvanklik ontsnap, maar een is herarresteer.
Volgens polisiewoordvoerder, kol. Donald Mdhluli, is ‘n polisiebeampte in die proses met sy eie dienspistool geskiet. Hy is tans in die hospitaal saam met nog twee lede wat tydens die voorval beseer is.



‘n Mannejag is geloods na Jima Dube, Sandile Gasa en Emmanuel Sibanda.
Die publiek is aangeraai om hulle nie te nader nie, maar eerder die polisie te kontak, sou hulle die mans gewaar.
‘n Driejarige dogtertjie is Maandagaand dood toe haar hut, in Siyathuthuka naby Belfast, afgebrand het.
Volgens Mdhluli was die ma uitstedig. Met haar terugkeer was die hut in vlamme. Twee ouer kinders van onderskeidelik sewe en nege jaar oud kon ontsnap.
Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag en kinderverwaarlosing teen die ma.

Vrydag is twee niggies van sewe en agt jaar oud in Masoyi dood toe hul huis afgebrand het. Verder is ‘n jong ma van Bosbokrand aangekeer vir kinderverwaarlosing.
Die 23-jarige vrou van Violet Bank naby Bosbokrand is verlede week as vermis aangegee. Volgens Mdhluli is die ma van drie verlede naweek by die huis weg sonder om háár ma te sê waarheen sy gaan. Sy het haar kinders, van onderskeidelik vier jaar, vyf jaar en nege maande, agtergelaat.
Sy is Vrydag glo by ‘n drinkplek opgemerk en aangekeer op klagte van kinderverwaarlosing. Sy sal vandag aansoek doen vir borg.
Die polisie sê mense moet hul kinders nie sonder toesig laat nie.

Die 40-jarige tolk van die Mkhuhlu-hof wat Maandag in die Bosbokrand-hof verskyn het op klagte van korrupsie, bly in aanhouding.
Busizwe Zizwe Zitha is Vrydag deur die Valke gearresteer. Volgens kapt. Dineo Sekgotodi het hy tussen Januarie en Maart twee mense omkoopgeld gevra het om sake teen hulle te laat verdwyn.
Die mense het die geld betaal, maar die sake is nooit teruggetrek nie. Die Valke vra dat ander slagoffers hulle kontak by 071-‪481-2819‬.
Lees meer hier: Hoftolk aangekeer vir beweerde korrupsie
‘n Vrou van Middelburg word deur die Valke gesoek vir beweerde bedrog.
Annica van Staden het glo deur Housing First Property verskeie eiendomme aan kopers verkoop, wat nie te koop was nie.
Sy is in August 2019 aangekeer en op borgtog vrygelaat, maar het nie vir haar volgende hofverskyning opgedaag nie.
‘n Lasbrief is uitgereik. Enigiemand wat kan help met inligting oor waar sy haar bevind is gevra om luitenant-kolonel Hanlie Coetser te kontak by ‪082-303-9881‬.


×