100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Herstel van huise, paaie topprioriteit in Mpumalanga

Written by on February 9, 2021

Die provinsiale regering het aangedui dat hulle hul begroting vir die jaar sal moet aanpas om die slagoffers van oorstromings die afgelope weke te help.
Grootskaalse skade is aan infrastruktuur aangerig deur die aanhoudende reën na tropiese storm Eloise.


Die departement van samewerkende regering het ‘n voorlegging aan die nasionale regering gedoen om ‘n ramp te verklaar. Hulle sal ook by die tesourie aansoek doen om addisionele fondse.
Mpumalanga se premier, Refilwe Mtshweni-Tsipane, sê egter die herstel van huise en paaie is dringend en hulle sal intussen self fondse daarvoor moet bewillig.
Agt mense is bevestig as dood weens verdrinking en daar word steeds na vyf gesoek.

Mtshweni-Tsipane het Maandag areas besoek waar infrastruktuur ernstig beskadig is deur die reën. Dit sluit in paaie, brûe en huise in KaNyamazane, Pienaar en KaBokweni.
Sy is vergesel deur die LUR vir samewerkende regering, Mandla Msibi, asook die burgemeesters van Ehlanzeni en Mbombela-munisipaliteite, Jesta Sidell en Sibusiso Mathonsi.

Volgens die premier is die skade veral erg in KaNyamazane. Sy het ook besoek afgelê by die familie van ‘n man wat hier in ‘n stroom verdrink het en haar medelye betuig met die naasbestaandes van al die slagoffers.
Volgens die departement van samewerkende regering se woordvoerder, George Mthethwa, gaan die meeste mense wie se huise beskadig is in Bosbokrand, Nkomazi en Msukaligwa intussen by familie tuis.
Die skade word tot dusver op R425 miljoen beraam.


×