100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Drie vas vir Bongani Mountain-brand

Written by on February 9, 2021

Drie mense is vasgetrek vir beweerde brandstigting na Bongani Mountain Lodge op 31 Januarie afgebrand het.
Dié spogreservaat op die Mthethomusha-reservaat aangrensend aan die Nasionale Krugerwildtuin is ‘n week gelede in puin gelê ná die brand.
Volgens die polisie het ‘n groep mense na bewering die pad na die reservaat blokkeer, deure oopgebreek en alkohol en ander items gesteel. Die polisie is na die toneel ontbied.
Van die vertrekke is aan die brand gesteek en die groep het gevlug. Die skade word op sowat R9 miljoen bereken.
“Werknemers moes volgens berigte vir hul veiligheid vlug,” sê die provinsiale polisiewoordvoerder, brig. Leonard Hlathi.
Die drie verdagtes is tussen 28 en 37 jaar oud en sou vandag in die KaNyamazane-landdroshof verskyn het.
Hulle staar ook klagte van die besit van gesteelde goedere, diefstal, kwaadwillige saakbeskadiging en openbare geweld in die gesig.
Die polisie kyk ook na beweringe dat polisielede glo traag was om by die brand op te tree asook óf die dood van ‘n man in Matsulu met gebeure verband hou.

Verder word ‘n saak van ontwettige jag ook ondersoek na nege karkasse van onder meer rooibokke, njalas en ‘n klipspringer Sondag in die reservaat ontdek is.
Daar word vermoed dat die diere agtergelaat is deur stropers wat moontlik vir wildbewaarders gevlug het.
“(Ons) het ‘n paar goeie leidrade en is seker dat arrestasies op hande is,” sê Hlathi.
Enigiemand met verdere inligting is aangemoedig om speurder-kaptein Vusimuzi Thobela by 082-469-1956 te kontak.


×