100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Groot toename in padsterftes in Mpumalanga

Written by on January 19, 2022

Sterftes weens verkeersongelukke het tussen 1 Desember en 11 Januarie met 33% vermeerder in Mpumalanga teenoor dieselfde periode verlede jaar.
Die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Vusi Shongwe, het gister aangekondig dat 189 mense dood is oor die afgelope feestyd – teenoor 142 in 2020/21. Daarvan was 61 in die Laeveld.
Volgens Shongwe is die meeste van die sterftes (‘n totaal van 48) te wyte aan trompop botsings. Noodlottige ongelukke het meestal plaasgevind op die N4, N2, R573, R544, R40, R38 en R23.
In totaal is 37 voetgangers dood, vier minder as verlede jaar. Mense wat ernstig beseer is, het toegeneem van 329 tot 427.
“Die dood van een is een te veel, wat die rede is dat hierdie getalle ons nie moedeloos moet maak nie, maar eerder moet aanspoor om harder te werk om lewensverliese drasties te verminder,” aldus Shongwe. “Ons moet ons pogings verdubbel om ons paaie veiliger te maak.”
Sowat 30 106 boetes is in die feestyd in Mpumalanga uitgereik vir verskeie verkeersoortredings – insluitende 776 vir die oorlaaiing van goedere en 360 vir die oorlaaiing van passasiers.
Meer as 160 000 voertuie is gestop en nagegaan en 684 is geskut. In totaal is 93 bestuurders gearresteer.
Landwyd het padsterftes met 14% toegeneem, het die minister van vervoer, Fikile Mbalula, gister bekendgemaak. Byna 1 700 mense is op die land se paaie dood.
Die AA sê hy is geskok oor die skerp styging. ‘n Woordvoerder, Layton Beard, sê die stygende dodetal op paaie wys die huidige banadering tot padveiligheid is nutteloos en aanpassings is nodig.


×