100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Drie polisiebeamptes vra glo omkoopgeld om verkragtingsaak te laat verdwyn

Written by on June 8, 2021

Drie beamptes verbind aan die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (GKS) het gister in die Kabokweni-landdroshof verskyn op klagte van korrupsie.
Sers. Bonisile Daphney Mjali (45), sers. Xolani Howard Nxumalo (37) en konst. Thulisile Patricia Mkhatshwa (35) het glo saamgewerk om omkoopgeld te eis by ‘n verdagte in ‘n verkragtingsaak.
Volgens die Valke se kapt. Dineo Sekgotodi het die een beampte aanvanklik op 7 Januarie van verlede jaar die man gekontak en wou sy R25 000 hê om die ondersoek te laat verdwyn.
Die ander verdagtes het later saam met haar na die man se werksplek gegaan. Hy het na bewering R5 000 betaal. Hulle het gesê die aanklaer soek nog R10 000 en het volgehou om geld van die man te eis. Hy het toe die Valke genader.

‘n Geheime operasie is beplan, maar die verdagtes het dit heeltyd uitgestel.
Die hof het toe lasbriewe vir hul inhegtenisname uitgereik, en hulle is gister by die werk in hegtenis geneem.
Elkeen van die drie is gister borgtog van R3 000 toegestaan.
Die saak sal op 6 Julie in die hof vir kommersiële misdade in Mbombela voortgaan.
Die DA se vrouenetwerk (Dawn) in die provinsie het die voorval veroordeel. Voorsitter Annerie Weber sê hulle moet dadelik geskors word en die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) moet dit ondersoek.
“Dit is moontlik dat hulle dit al voorheen gedoen het,” sê sy in ‘n verklaring. “Die GKS behoort slagoffers te ondersteun en te beskerm.
“Seksuele geweld teen vroue en kinders in Mpumalanga is wydverspreid en dit kan nie geïgnoreer word nie wanneer dieselfde beamptes op wie die gemeenskap staatmaak vir hul veiligheid eerder die oortreders beskerm.”


×