100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Baba Ayden: Ma vertel van vordering

Written by on June 10, 2021

Baba Ayden van Niekerk se ma kon hom Maandag vir die eerste keer in weke vashou.
Dié klein vegtertjie is nou reeds vyf weke in die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg, na hy op 6 Mei in Lydenburg aan ‘n stukkie biltong verstik het.
Sy ouers het met hom hospitaal toe gejaag, van waar hy per helikopter Garden City toe geneem is. Hier is hy in ‘n mediese koma gesit. Sy verdowing is intussen stelselmatig verminder en Ayden is Sondag eindelik van sy ventilator afgehaal.

Dit was egter net te veel vir sy klein lyfie om self asem te haal terwyl hy onttrekkingsimptome ervaar van die medikasie waarop hy was, vertel sy ma, Estelle.
Klein Ayden is daarom Dinsdagoggend weer op die ventilator gesit. Hy is wel nie meer onder sedasie nie, maar baie deurmekaar, sê sy.

Estelle kon hom Maandag vir die eerste keer vashou, maar sedert hy weer op die ventilator gesit is, mag sy nie. “Hulle wil hê hy moet so min moontlik beweeg, weens die pyp in sy keel.”
Hy beweeg wel sy voetjies en handjies en slaap baie.
Estelle en haar man is al sedert die eerste dag by Ayden in Johannesburg, maar net een ouer word tans elke dag by hom toegelaat weens Covid-19.
Sy pa moet ook teruggaan werk toe, so hy sal volgende week terugkeer Lydenburg toe.
Estelle sê die dokters dink dit kan nog drie weke neem vir al die medikasie om uit Ayden se sisteem te werk.
“Dit is vir seker nie ‘n kort paadjie na herstel toe nie,” sluit sy af.


×