100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Drie Nellies deur na Nasionale Toneelspel-finaal

Written by on May 4, 2021

Drie leerlinge van Hoërskool Nelspruit (NHS) het na die finale rondte van die Nasionale Toneelspelkompetisie deurgedring.
Sumari Naudé (gr. 12), Megan Bester (gr. 11) en Ronel Basson (gr. 9) is onder die 82 finaliste wat gekies is om van Donderdag daaraan deel te neem.
Bykans 500 deelnemers van regoor die land het aan die uitdunrondtes deelgeneem.
Drama-afrigter, Frances van Niekerk, sê dit is ‘n besonderse prestasie om drie deelnemers in die finaal te hê. Hulle is ook die enigste drie van Mpumalanga.

Van Niekerk bedryf Finesse Drama Studio in Mbombela en is ook betrokkke by NHS se tienertoneel.
Sy voeg by dat die skool in die verlede nog net een deelnemer op ‘n slag na die finale van hierdie gesogte kompetisie kon stuur.
Die deelnemers moes via video inskryf met ‘n stuk prosa en ‘n gedig. Die kompetisie skop Donderdag af met ‘n monoloog en improvisasie in die eerste rondte.
Vandaar dring 32 deur na die tweede rondte se prosa en gedigte. Die ander deelnemers kry terselfdetyd ‘n toer van die stad en woon ‘n AFDA-werkswinkel by.
Die multimedia-rondte sluit in improvisasie by AFDA en op RSG. Daar word dan agt gekies om by die Saterdagaand se groot gala-aand op te tree.
Volgens Van Niekerk is dit ‘n groot geleentheid om te leer, en het deelnemers in die verlede al groot pryse gewen, onder meer om by die Woordfees op te tree, kontantpryse en selfs studiebeurse by Stellenbosch.
Hoërskool Bellville bied vanjaar vir die agtiende keer die Nasionale Toneelspelkompetisie aan. Dit vind by die Artscape Theatre Centre in Kaapstad plaas.


×