100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

DA vra wéér dat Mega ontbind word

Written by on May 4, 2021

Die DA het weer ‘n beroep gedoen op die LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Vusi Mkhatshwa, om die Mpumalanga-agentskap vir ekonomiese groei (Mega) te ontbind.
Volgens DA-LPW Bosman Grobler wys die gekonsolideerde algemene verslag oor oudituitslae vir 2019/20 wat op 31 Maart vrygestel is, dat Mega 373% in die rooi is.
Hy sê die party is regtig bekommerd dat die agentskap nie hul mandaat kan uitvoer nie, omdat Mega ‘n daadwerklike verskil kan maak.

Hy voer aan dat die staatsbeheerde onderneming (SBO) prakties bankrot is, en juis daargestel is om ekonomiese groei – en gepaardgaande werkskepping – te bewerkstellig.
“Mpumalanga se uitgebreide werkloosheidsyfer staan nou op 46,4%, die derde hoogste van die nege provinsies. Met wanfunksionerende SBO’s soos Mega staar die provinsie se groeiende bevolking ‘n neerdrukkende toekoms in terme van werksgeleenthede in die gesig,” sê Grobler.

Die ouditeur-generaal (OG) skryf in die verslag dat departemente en SBO’s meer spandeer as die fondse tot hul beskikking.
Grobler voer aan dat Mega gewoond is daaraan, maar in die verlede altyd net nog meer geld toegedeel is. Die Covid-19-pandemie het egter ‘n stop aan die geldkraan gesit, omdat fondse van oral herlei moes word om die virus te beveg.
Die OG merk op: “Tien departemente het reeds meer as 10% van hul begroting vir die volgende drie jaar toegewys, wat strategiese prioriteite benadeel en hulle kniehalter om noodgevalle, soos die pandemie en tropiese storms, te hanteer.”
Die OG sê sy bly besorgd oor die finansies van die departement van gemeenskapsveiligheid, Mega en die Mpumalanga toerisme- en parke-agentskap (MTPA).


×