100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Drie moordenaars swaar gestraf

Written by on January 12, 2022

Drie mans is gister swaar gevonnis in die Mpumalanga Hooggeregshof vir ‘n moord wat hulle in Junie 2019 gepleeg het.
Vusi Sihlabela (41), Karabo Makhubedu (31) en Norman Mokoena (25) het ‘n man van sy beursie beroof in ‘n drinkplek in Marite naby Hazyview.
Toe hulle uitvind hy het die saak by die polisie aangegee, het hulle hom in sy huis dood gaan skiet. Volgens polisiewoordvoerder, brig. Selvy Mohlala, is sy nefie ook gewond.

Al drie is lewenslange gevangenisstraf opgelê vir die moord. Sihlabela is ook tot ‘n gesamentlike 75 jaar gevonnis vir poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Makhubedu en Mokoena het beide 65 gekry vir dieselfde oortredings.
Drie verdagtes verder is aangekeer vir ‘n dubbele plaasmoord Sondag in Piet Retief.
Volgens die polisie het hulle na bewering ‘n egpaar in hul sestigs doodgeskiet.
Die verdagtes word ook verbind aan ‘n huisroof op 16 Desember in die area waar goedere ter waarde van R55 200 geroof is. Die een verdagte is ook aangekeer vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen.
Hulle het reeds in die hof verskyn, en bly in aanhouding tot Mandag, 17 Januarie.
Drie mans is ook vasgetrek met gesteelde koper in hul besit in Daggakraal Sondag.
Mohlala sê die polisie was besig met roetine-patrollies toe hulle om ongeveer 05:00 die drie opgemerk het met sakke wat buitengewoon swaar voorgekom het. Hulle is deursoek.
Twee groot ronde koper blokke asook gereedskap is aan hul persone gevind.
Volgens die polisie het die een verdagte beken dat hy een blok van ‘n transformator gesteel het.


×