100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

DA bekommerd oor besnoeide begroting vir toerisme

Written by on November 9, 2020

Die DA in Mpumalanga het hul kommer uitgespreek dat die Mpumalanga Toerisme- en Parke-agentskap (MTPA) se begroting hierdie jaar sover met R40 miljoen gesny is.
Die provinsiale begroting is vroeër vanjaar aangepas om fondse vir die Covid-19-pandemie beskikbaar te maak. Van die geld is onder verskillende departemente herverdeel, terwyl bedrae aan die nasionale regering terugbesorg is om die pandemie te beveg.
Nou het die verslag oor die tweede kwartaal, wat einde September tot ‘n einde geloop het, gewys dat die besnoeiing veral mikro- en kleinsakeondernemings wat deur die MTPA ondersteun word, raak.

“Sonder daardie ondersteuning gaan hulle toemaak,” sê die DA se Bosman Grobler.
Hy verduidelik dat dit verstaanbaar is dat geld vir die pandemie uit die “beskikbare pot” landwyd moet kom, en dat niemand vir die pandemie kon begroot nie.
Maar, voeg hy by, ekonomiese drywers soos the MTPA moet steeds ondersteun word.

“Toerisme is een van die grootste ekonomiese drywers in Mpumalanga. Die bedryf benodig meer geld, nie minder nie,” sê hy.
Plaaslike toerisme sê hulle het nog geen herstel gesien sedert inperking begin lig het nie.
Grobler voeg by dat daar boonop ‘n vraagteken is oor watter waarde vir geld verkry word vir aankope van beskermende kleredrag.
“Die regering moet voorsiening maak om Covid-19 te beveg,” sê hy. “Alle projekte wat gestop kan word, is gestop. In beginsel is dit ‘n goeie ding, maar daar is vraagtekens oor of die geld vir Covid-19 reg spandeer word.”

Premier Refilwe Mtshweni-Tsipane het op 19 Augustus tydens ‘n mediakonferensie aangekondig dat verskeie onreëlmatighede geïdentifiseer is in vyf entiteite se keuse van verskaffers.
Die provinsiale departemente van sport en samewerkende regering, die tesourie, MTPA en die Mpumalanga-agentskap vir ekonomiese groei (Mega) se uitgawes vir Covid-19 word ondersoek.
‘n Beperkte aantal verskaffers sou glo voordeel getrek het tydens die pandemie.

Mtshweni-Tsipane het ‘n onafhanklike span aangestel om die onreëlmatighede te ondersoek. Dit uitslag van die ondersoek is steeds nie bekend nie.
Verder sal die provinsie na verwagting nog meer befondsing aan die nasionale regering terug moet gee voor die einde van die finansiële jaar.
LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Pat Ngomane, lewer volgende Dinsdag sy aangepaste begroting vir 2020/21.


×