100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Die seun met die rooi masker agter Bergvlam se Jerusalema-sukses

Written by on November 9, 2020

Hoërskool Bergvlam se Jerusalema-uitdaging is nou reeds meer as 3,4 miljoen keer op YouTube gekyk.
Dit is binne slegs drie maande sedert dit in Augustus op dié platform gelaai is.
Meer as 1 200 mense het ook kommentaar daarop gelewer. Die meeste opmerkings is komplimente vir Alex Etsebeth, oftewel die seun met die rooi masker.
Hy steel in die video heeltemal die kollig met sy danspassies.
Verskeie mense het aanbeveel dat die skool die video weer skiet, maar dié keer net op Alex focus.
Ander het bespiegel dat dit seker sy idee was dat die skool die video maak, want hy lyk so voorbereid.
Alex, wat tans matriekeindeksamen skryf, sê egter hy het die dans glad nie geken, of voor dit geskiet is, eens van die Jerusalema-uitdaging gehoor nie.

“Die skool het net al die matrieks gevra om bymekaar te kom. Ek het nie geweet van die uitdaging nie. Ek het dit daar geleer net voor ons dit opgeneem het.
“Maar ek het gedink niemand gaan dit sien nie, so gooi dit net. Ironies het dit toe opgeblaas,” lag hy.
Alex is nie formeel opgelei in dans nie, maar geniet dit. Hy was sy hele hoërskoolloopbaan by Bergvlam se jaarlikse revue betrokke asook by die Laeveld Eisteddfod, waar hy meestal aan drama en voordrag deelgeneem het.
Dit is dus maklik om te sien dat dit sy droom is om ‘n akteur te word. Hy is reeds by die Universiteit van Pretoria aanvaar om volgende jaar daar drama te gaan studeer.
Hy is dol oor rolprente en om drama op ‘n verhoog op te voer. Die droom is ook ‘n bietjie geneties: beide sy ouers het in hul jeug ook drama studeer.
“Baie mense het drome, maar met tyd laat vaar hulle dit. Ek het nie. Ek dink dit is moontlik. Akteurs is ook net mense, so hoekom kan ek nie een wees nie?”


×