100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Covid-inenting begin by Rob Ferreira-hospitaal

Written by on February 19, 2021

Die hoof van Mpumalanga se gesondheidsdepartement, dr. Savera Mohangi, het vanoggend die eerste mens in die provinsie geword om die Covid-inenting te kry.
Die premier, Refilwe Mtshweni-Tsipane, het ook die afskop van die inentingsveldtog by Rob Ferreira-hospitaal bygewoon.
‘n Totaal van 2 000 dosisse van die eerste besending J&J-entstof is aan die hospitaal gelewer en 1 640 sal aan Witbank-hospitaal gelewer word.
Mtshweni-Tsipane, wat verlede jaar die virus gehad het, sê sy het nie nou die inenting ontvang nie, omdat gesondheidswerkers geprioritiseer moet word.

“Hulle loop die grootste risiko en dit sal daarom onregverdig wees as ons, onsself voor hulle stel. Gesondheidswerkers moet dit eerste kry, en die res van ons sal later volg.”
In Mpumalanga is 41 gesondheidswerkers weens die virus dood.
Suid-Afrika se inentingsprogram sal in drie fases uitgerol word.
Fase 1 is die inenting van alle gesondheidswerkers. Fase 2 is noodsaaklike werkers, mense ouer as 60 en volwassenes met onderliggende siektes.
Fase 3 sluit in almal ouer as 18 jaar.
In Mpumalanga sluit die eerste fase 69 652 gesondheidswerkers in die staatsdiens en private sektor in. Hulle word ook volgens risiko in kategorieë verdeel en geprioritiseer.
Landwyd het meer as 1 498 766 positief getoets vir die virus, en 48 708 mense is weens dit dood. In Mpumalanga het 69 613 positief getoets. Die herstelkoers is 96%. Tans is daar 1 611 aktiewe gevalle in die provinsie.


×