100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Covid-gevalle skiet die hoogte in, Rob Ferreira-hospitaal is vol

Written by on January 13, 2021

Rob Ferreira-hospitaal is tans vol weens koronavirus-pasiënte.
Maar, sê Christopher Nobela, die woordvoerder van Mpumalanga se gesondheidsdepartement, niemand word weggewys nie.
Pasiënte wat stabiel is en nie suurstof benodig nie, word na streekshospitale, soos diè in Barberton, oorgeplaas.
“Daar is nog beddens in streekshospitale beskikbaar,” sê hy.
Barberton-hospitaal is spesifiek ingerig om Covid-gevalle te behandel. By Rob Ferreira-hospitaal word op meer kritieke pasiënte gefokus.
Oor suurstof, sê Nobela is daar tans nog genoeg vir almal wat dit benodig.
Die provinsie het nog nooit soveel Covid-19-gevalle gehad nie: Aktiewe gevalle het gister die 8 000-merk oorskry. Van hulle is 1 737 in Mbombela.

Volgens die departement het die tweede golf infeksies die afgelope week die eerste golf oorskry.
Vir die week wat op 10 Januarie geëindig het, is 7 197 Covid-19-gevalle in Mpumalanga aangeteken, ‘n toename van 98% teenoor die 3 629 gevalle wat vir die week tot en met 3 Januarie bevestig is.
Die daaglikse gemiddelde toename was 1 028 gevalle die afgelope week, teenoor die 518 in die laaste week van 2020.
Die departement skryf die afname in die herstelkoers, van 95% tot 83%, toe aan die verhoogde aantal positiewe gevalle. In totaal is 707 pasiënte aan die virus dood.
Ehlanzeni-distrik, wat Mbombela, Nkomazi, Thaba Chweu en Bosbokrand insluit, het die meeste gevalle: 37% van alle bevestigdes en 45% van aktiewe gevalle.
Die LUR vir gesondheid, Sasekani Manzini, sê die meeste mense volg duidelik die inperkingsregulasies. Sy het mense aangemoedig om die departement dadelik te kontak as hulle hulp nodig het om te isoleer of in te kwarantyn wees.



×