100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Pumas kondig nuwe titelborg aan

Written by on January 14, 2021

Die Pumas-rugbyspan sal voortaan as die New Nation Pumas bekendstaan.
Die Rugbyunie het vanoggend aangekondig dat New Nation Construction (NNC) van die 2021- tot die 2023-seisoene die span se titelborg sal wees.
Dít na Phakisa se drie-jaar kontrak as titelborg aan die einde van 2020 verstryk het.
Volgens die uitvoerende hoof van Mpumalanga Rugby, Marius van Rensburg, glo hulle dat NNC se ondersteuning, saam met hul ander borge, die span na hoër hoogtes sal neem.

“Ons waardeer werklik hul geloof in, en ondersteuning van, die Pumas.”
Soos die meeste van hul ander borge, is NNC ‘n Mpumalanga-maatskappy.
Dit is in swart besit en spesialiseer in die vervaardiging en installasie van pype, stoortenks en staal strukture vir verskeie industrieë, soos die papier, olie en gas, suiker, en petrochemiese velde.
Hul werkswinkel is in Rocky Drift.
Die 2020-seisoen is erg deur die Covid-19-pandemie ontwrig. Die pienktruie en dit Sondag op ‘n hoë noot by die huis afgesluit, deur die Vodacom Bulls met 44-14 te troef in hul laaste Carling Curriebeker-wedstryd.
Dit was die Pumas se derde wen van die seisoen, en hulle het sesde in die kompetisie geëindig.
Van Rensburg sê ‘n silwer randjie van die pandemie was dat topspanne se sterspelers aan die plaaslike kompetisies deelgeneem het, nadat internasionale rugby afgeskaf is vir die land.
“Ek dink ons borge se blootstelling was ook eintlik meer, omdat ons in twee toernooie gespeel het en elke naweek televisieblootstelling vir hulle kon gee.
“Ons was gelukkig dat almal betrokke steeds bereid was om ons te help en by te staan in moeilike tye.”
Die ander borge bly Mbombela-munisipaliteit, KMIA/AIRLINK, iCOLLEGE, Motswako/RICOH, City Bug, H2O BWT, Heidel Eggs, OSHEE, Mpumalanga National Lotteries Commission, Barzani Group, Tsogo Sun, Bongani Rainmaker Logistics, Laevelder en nationale maatskappye soos Volcano Sports, TW Profile EVOX, Bulk Fuels en Protein Foods.
“Ons span is geseënd dat NNC by ons aansluit,” sê Van Rensburg.
Die unie sal teen die einde van hierdie maand formeel aankondig aan watter kompetisies hulle vanjaar gaan deelneem.


×