100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Bergvlam-onderwyser ontvang internasionale toekenning

Written by on December 21, 2020

Hoërskool Bergvlam se Louise Fullard is gister met ‘n Global-onderwystoekenning vereer.
Dié Afrikaansonderwyser en hoof van die skool se Afrikaanse departement, is gekies om Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig nadat sy in Februarie by die Nasionale Onderwystoekennings aangewys is as die beste in die land met die gebruik van tegnologie in haar lesse.
Weens die voortslepende Covid-19-pandemie is die seremonie Sondag virtueel vanuit Indië aangebied.
Onderwysers van 110 lande het toekennings ontvang vir hul bydraes tot die beroep.
Fullard sê dit is vir haar ‘n groot eer.

Sy was uit die veld geslaan net oor die nominasie.
Sy het haar familie en kollegas, maar ook die skool, die distrik, Mpumalanga en Suid-Afrika bedank vir hul ondersteuning deur haar loopbaan en dat hulle haar “help vorm het vir ‘n oomblik soos hierdie”.
Fullard is geen vreemdeling vir onderwystoekennings nie. Sy het verlede jaar nasionaal derde geëindig in die kategorie vir beste onderwyser in ‘n sekondêre skool. Sy bied Afrikaans Eerste Addisionele Taal aan.
Die Global-onderwystoekennings word deur AKS aangebied en erken die rolspelers in die opvoedkundige bedryf in al die uithoeke van die aarde, omdat hulle glo dat ‘n klein bietjie waardering ‘n groot verskil aan gemeenskappe kan maak.
Aan die einde van die seremonie is 17 ambassadeurs aangewys, waarvan Fullard ongelukkig nie een was nie.
Sy het tegnologie lank voor die Covid-19-pandemie reeds omarm, omdat sy glo dat tieners makliker leer wanneer hulle dit geniet.
“Tegnologie is vir hulle lekker, dit is wat hulle ken. Ons moet op die beste manier wat hulle leer die goed beskikbaar stel dat ons hulle entoesiasties kan kry. Wat is vir hulle interessant?
“Wanneer hulle na skool hier uitgaan, moet hulle kan deelneem in die wêreld en dit raak al hoe meer digitaal.
“Dit gaan daaroor om uiteindelik die kind te bemagtig.”



×