100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

BCJ help om voortvlugtige aan te keer

Written by on January 28, 2021

‘n Voortvlugtige man van Kaapstad is die afgelope week deur die Valke en Bossies Community Justice in die Laeveld aangekeer.
Sipho Casta Motha (42) word reeds sedert Mei 2015 deur die polisie in die Wes-Kaap gesoek.
Volgens die Valke in Mpumalanga se woordvoerder, kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, word daar beweer dat die verdagte in Junie 2014 homself as ‘n vragmotorhandelaar voorgedoen het.
“Hy het sowat R150 000 in betaling ontvang van ‘n sakeman wat ‘n vragmotor benodig het. Die man het van die Wes-Kaap na Johannesburg gereis om die voertuig af te haal, maar het dit nooit ontvang nie,” sê sy.
Die saak is toe in Kaapstad by die polisie aangemeld. Die Valke sê die polisie in die Wes-Kaap het hulle vir hulp gevra.
Albert Gryvenstein, operasionele bestuurder van Bossies Community Justice, verduidelik hoe hulle Motha aangekeer het.

Gryvenstein sê hulle het inligting ontvang dat hy in Mbombela is.
“Ek het gehelp deur my kontakte en leidrade op te volg. Ons het mettertyd bevestig dat hy eintlik in Barberton is, en het hom toe by sy werksplek gaan arresteer,” sê hy.
Motha het vlugtig in die Barberton-landdroshof verskyn en bly in aanhouding. Hy sal volgende op 2 Februarie verskyn in die Khayelitsha-hof in die Kaap, waar die saak sal voortgaan.
Bossies Community Justice, ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie, het nog sukses gesmaak die week.
Sondag het Gryvenstein saam met lede van die Nelspruit-blitspatrollie vier verdagtes in Malalane aangekeer na ‘n rooftog.
Twee vuurwapens, 98 selfone, en twee voertuie asook klere wat tydens die voorval gesteel is, is teruggekry.


×