100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Al is Kaapstad nou Slaapstad is die gees steeds daar

Written by on April 9, 2020

Alita Steenkamp

David Kramer en Taliep Petersen het jare gelede die liedjie “Welcome to Cape Town” geskryf as ʼn uitnodiging aan die wêreld om Kaapstad te besoek en die Moederstad se heerlike gees te geniet. David Kramer se produksie Kaapkreools debuteer by vanjaar se Suidoosterfees. Die fees, wat vanaf 27 April tot 3 Mei sou plaasvind, is intussen uitgestel weens COVID-19. Die nuwe datum van die fees is egter nog nie aangekondig nie.

Soos dit ʼn ware kunstenaar betaam wéét Kramer egter: the show must go on!  Hy het nie op hom laat wag nie en splinternuwe lirieke vir dié gewilde liedjie geskryf. Die nuwe woorde van die liedjie is heel gepas in die vreemde tye waarin ons ons tans bevind: ʼn wêreld waar ons eerder veilig tuis moet bly as om êrens heen te gaan en moontlik deur ʼn dodelike virus uit die Ooste besmet te word. Die liedjie “#TsekCorona!” is ʼn tong-in-die-kies-liedjie wat op ʼn humoristiese wyse kyk na ons almal wat hoog en droog by die huis moet sit.

Verskeie bekendes in die vermaaklikheidsbedryf is deel van die video. Dit sluit sterre soos Nadia Valvekens, Marc Lottering, Martelize Brink, Theodore Jantjies en Ivan Zimmerman in. Moet egter nie dink daar is enige reëls gebreek nie. Almal het in die veiligheid van hulle eie huise ʼn selfoonvideo gemaak om ʼn skoffelpassie of twee te deel. Hierdie is ʼn inisiatief van die Cape Town Music Academy. Die KaapsKreools Collective met musikante soos Schalk Joubert en David Kramer maak die musiek en Loukman en Emo Adams doen die singwerk.

David Kramer is opgewonde oor dié inisiatief: “Ek en wyle Taliep Petersen het ‘Welcome to Cape Town’ geskryf. Die idee was om besoekers aan te moedig om na Kaapstad te kom en om die Kaapse gees te geniet. Maar vandag, as gevolg van Covid-19, het ons geen besoekers nie en die strate is leeg – die totaal teenoorgestelde beelde as was wat die liedjie gevier het. Dit het my die idee gegee om die lirieke te herskryf en so ons huidige situasie te beskryf. Ek hoop dit sal bietjie vreugde en humor bring in hierdie vreemde tye,” het hy tydens die bekendstelling van die YouTube-video gesê.

Dis goed om te weet dis nie net ons hier in die Laeveld wat tuis bly nie!

 

 


×