100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Aktiewe Covid-19-gevalle neem af in Mbombela

Written by on December 1, 2020

Strenger inperkingsregulasies is moontlik dele van die Wes- en Oos-Kaap se voorland weens ‘n tweede vlaag Covid-19-infeksies.
Die prentjie lyk egter heeltemal anders in Mpumalanga. Daar is die afgelope agt dae 303 positiewe gevalle opgetel uit 14 855 toetse wat gedoen is.
Volgens die provinsiale gesondheidsdepartement se jongste statistieke, is daar tans 340 aktiewe gevalle. Van hulle is 154 in Mbombela.
Die munisipale area toon reeds vir ses weke ‘n afname in aktiewe gevalle.
Geen mense is die afgelope week dood nie. Die provinsie se totale dodetal weens die virus staan op 614. Die herstelkoers van die virus is 97%.
Dumisani Malamule, woordvoerder van Mpumalanga se gesondheidsdepartement, het mense aangemoedig om vir Covid-19-toetse te gaan as hulle simptome wys, of in kontak was met iemand wat die virus het.

“Ons raai mense aan om ‘n toets te laat doen waneer hulle enige simptome wys. Dit sluit in as jy nies, ‘n seer keel of kopseer het, of moeg is.
“Dit is belangrik dat mense getoets word wanneer hulle in nabye kontak was met iemand wat dit het, al wys jy nie simptome nie. Moet dit nie ignoreer nie.
“Dit is beter om te weet as jy dit het, sodat die nodige stappe geneem kan word om verdere verspreiding te keer.”
Landwyd het 790 004 mense tot dusver positief getoets, met 21 535 sterftes. Wêreldwyd is dit 62,4 miljoen, en 1,5 sterftes.
Die Wes-Kaap het tans 10 057 aktiewe gevalle. Die premier van dié provinsie, Alan Winde, sê hulle ondersoek of hulle as ‘n provinsie beperkings in mag stel.
Malamule raai mense ook aan om hul maskers te dra, hul afstand te hou, groot byeenkomste te vermy, en hul hande en huise te ontsmet.
Hy voeg by dat toetse by alle staatshospitale- en klinieke heeltemal gratis is. Mense behoort ook binne 24 uur hul uitslae te ontvang.


×