Beloning uitgeloof vir inligting oor polisiemoordenaar
Written by Mireille on August 11, 2025
Die nasionale polisiekommissaris, gen. Fannie Masemola, sê ‘n verdagte is aangekeer weens die moord op sers. Lawrence Mtshweni in Schoemansdal Saterdag.
Mtshweni is doodgeskiet toe hy op ʼn inbraak gereageer het.
Masemola het gister saam met die LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, Jackie Macie, en die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, gen. maj. Zeph Mkhwanazi, Mtshweni se gesin besoek.
Hulle het ook die misdaadtoneel besoek.
Masemola het ‘n beloning van R150 000 uitgeloof vir inligting oor die sowat 10 verdagtes.
Mtshweni se moord volg op Vrydag se moorde op twee speurders in Roodepoort.
A.O. Vuyisile Sintwa en sers. Simon Masenye is glo deur die verhoorafwagtende Jabulani Moyo doodgeskiet terwyl hulle hom van die Roodepoort-landdroshof terug tronk toe vervoer het.
‘n Beloning van R150 000 is ook uitgeloof vir inligting om Moyo vas te trek.
Masemola sê alles moontlik word gedoen om die verdagtes vas te trek.
Luister:
Die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, sê die sinnelose geweld teen manne en vroue in blou is ʼn aanval op die oppergesag van die reg.
Die ministerie se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê Cachalia vra groter waaksaamheid.
Luister:
Intussen is drie verdagtes, wat na bewering op 28 Julie ‘n polisiebeampte in Bosbokrand beroof het, Donderdag gearresteer.
Fumani Avoid Mashego (19), Surprise Khoza (25) en Promise Thandi Mashego (23) het hom glo die betrokke aand in die sakekern oorval en van sy dienspistool beroof.
Volgens die polisie in Mpumalanga is die vroulike beskuldigde in besit gevind van die gesteelde vuurwapen by haar huis.
Hulle het Vrydag in die hof verskyn. Die saak is uitgestel tot 15 Augustus vir ‘n formele borgaansoek.