100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

97% van Mpumalanga se skole weer oop

Written by on June 15, 2020

‘n Week na die skole heropen het, is sowat 97% van die skole in die provinsie weer operasioneel.
Die gr. 7- en gr. 12-leerlinge kon verlede Maandag terugkeer skool toe, maar sommige skole was nie gereed om te heropen nie.
Volgens Jasper Zwane, woordvoerder van die onderwysdepartement in Mpumalanga, is die ontsmetting van skole in die Lekazi-omgewing ontwrig.
Sewe-en-twintig skole in KaNyamazane, Pienaar and Malekutu kon daarom nie verlede week oopmaak nie.
Dié skole is egter intussen ontsmet en hy verwag dat al die skole in die area Woensdag, na die vakansiedag, weer oop sal wees.
Lowveld High het ook Maandag heropen. Twee onderwysers het vroeër positief vir Covid-19 getoets en die skool was daarom verlede week gesluit.
Volgens Zwane het geen ander leerkragte by hierdie skool verder positief getoets nie. ‘n Skool in eMalahleni (Witbank) is wel toegemaak, nadat ‘n onderwyser daar positief getoets het.
Regoor die provinsie is 97% van skole oop, met sowat 90% van die gr. 7’s en gr. 12’s wat reeds teruggekeer het na die skoolbanke.

Die departement fokus nou op die terugkeer van ander graadgroepe.
Sover keer grade 1 tot 3, 6, 10 en 11 op 6 Julie terug, en grade 4, 5, 8 en 9 op 3 Augustus.
“Ons begin nou met die besprekings oor skole se gereedheid om ander grade in te neem,” sê Zwane.
Hy het bevestig dat hulle versoeke van skole ontvang om ander graadgroepe vroeër as dit terug te laat, maar dié vergunning is meer op klein skole gemik.
Intussen het die land Sondag 4 302 nuwe Covid-19-gevalle binne 24 uur aangeteken, die hoogste getal nuwe infeksies nog binne 24 uur in Suid-Afrika.
Die totale getal infeksies landwyd staan op 70 038. In Mpumalanga is daar 297 met een sterfte.
Zwane het ouers bedank dat hulle hul kinders aan die departement toevertrou.
“Ons sal alles doen wat ons kan om lewens te beskerm, en terselfdetyd onderwys te red.”

 


×