100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

100.5FM se eie Sanett op kortlys vir GoeieGons!-toekennings

Written by on August 17, 2021

Radio Laeveld 100.5FM se eie Sanett Oosthuizen is genomineer vir ‘n GoeieGons!-toekenning as Radiopersoonlikheid van die jaar.
Luisteraars ken haar as die stem op 100.5FM waarmee hulle soggens wakker word en hul dag aan die gang kry. Aanvanklik het sy en Neels die Laeveld Ontbyt saam aangebied, maar sedert Desember het luisteraars gewoond geraak om net deur Sanett, haar gaste en ander luisteraars vermaak te word weeksdae tussen 06:00 en 09:00.
Wat dié “eenvrouvertoning” se nominasie nog meer indrukwekkend maak, is die kaliber van haar medeomroepers wat ook die kortlys gehaal het. Annelie Bouwer en Pieter Cloete is beide by GrootFM en Sarina Bosman en Estel de Beer by PretoriaFM.
“Dit is wonderlik net om saam met daardie groot siele in ‘n ry te staan,” sê Sanett.
Haar pad na die radio beskryf sy as dat dit telkemale toevallig oor háár pad kom: Eers was dit in Gqeberha (Port Elizabeth) op KingfisherFM waar sy uiteindelik programbestuurder was vanaf 2009 tot 2010. Na sowat sewe jaar weg van radio, het sy in 2017 by Radio Laeveld betrokke geraak met stemwerk en voorafopgeneemde programreekse soos “Pappa, Mamma en … “ saam met gaste soos Melodie de Jager van BabaGim en Timothy Kieswetter van Gesonde Seks-faam.
In 2018 het ’n vinnige “uithelp” op die ontbytprogram in ’n permanente posisie ontaard, omdat dit net soveel pret was. Tog het sy haarself aanvanklik glad nie as ‘n spitstydprogram-aanbieder gesien nie, omdat sy gedink het sy is te vervelig.
Sy het dit intussen self as onwaar bewys, maar as ‘n opgeleide onderwyser, maak sy seker haar programinhoud is betekenisvol. “Ek kan nie net ‘n geraas maak vir jou ore nie.”

Haar “klaskamer” word aan die einde van die maand vir eers kleiner, omdat sy besluit het om radio weer vaarwel toe te roep om te fokus op haar kleintjies se tuisskoolonderrig. Sy koester egter groot drome en dit sal beslis nie die laaste wees wat ons van haar hoor nie.
Bring hierdie toekenning Laeveld toe, deur vir Sanett te stem by Solidariteit.co.za.


×