100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Witrivier 3 dae sonder water en beurtkrag is terug

Written by on September 12, 2023

Groot dele van Witrivier het reeds drie dae lank nie water nie, en is vanoggend ook verras met die herinstelling van beurtkrag.
Die dorp is vroeër kwytgestel weens ‘n ooreenkoms tussen die houtpaneel-vervaardiger, Sonae Arauco, en Mbombela-stadsraad.
Daarvolgens moet Sonae sy verbruik self tydens beurtkrag beperk, maar dit laat hom toe om produksie vol te hou. .
Die Mpumalanga Hooggeregshof het op 16 Augustus bevind Mbombela en Eskom mag weens die ooreenkoms die fabriek nie aan beurtkrag onderwerp nie.
Sonae Arauco voer aan hy benodig betroubare kragtoevoer om veilig en volhoubaar te bly omdat onderbrekings skade aan produksielyne aanrig en ‘n hoë brandgevaar inhou wat uiteindelik sy uitsette in gedrang sal stel.
‘n Alternatiewe bron van elektrisiteit sal hom na raming R600 miljoen uit die sak uit jaag en tussen 12 en 18 maande neem om op te rig.
“Dit is belaglik dat Sonae vier vereistes vir ‘n tussentydse interdik moes stel,” lees die hofuitspraak.
“Ek vind dat Sonae al die vereistes vir ‘n tussentydse interdik vasgestel het: Sonae het vasgestel dat hy ‘n prima facie reg het op ononderbroke krag na sy fabriek kragtens die ooreenkoms; Sonae het onherstelbare skade getoon, nie net aan homself nie, maar aan die breër gemeenskap waarbinne dit funksioneer as die munisipaliteit versuim om aan die bepalings van die ooreenkoms te voldoen.
“Sonae het geen ander doeltreffende middel om sy onmiddellike lot te verlig nie; en die geriefsbalans bevoordeel Sonae aangesien die munisipaliteit vir meer as drie jaar aan die bepalings van die ooreenkoms kon voldoen (behalwe vir die onderbreking in Desember 2022).
“As Eskom wel die krag na die Rocky Drift substasie afgesny het omdat die munisipaliteit versuim het om die las wat Eskom benodig af te skud, moet die munisipaliteit ander maniere hê om sy vrag te verminder want hy kon dit ingevolge sy ooreenkoms met Eskom doen ten minste vir ‘n geruime tyd voor 29 Mei 2023.”
Eskom het egter nou geappèlleer teen die hofbevel en daar word bespiegel dat dit die rede is dat beurtkrag sedert 07:00 vanoggend weer op die dorp geld.
Dit is egter moeilik om te bepaal weens Mbombela se versuim om met inwoners te kommunikeer – oor beurtkrag of watervoorsiening, aldus die DA-raadslid, Rowan Torr.
Beurtkrag buite Witrivier word wel al geruime tyd aangevoer as ‘n rede vir sporadiese watertekorte.
Sien ook: Menseregtekommissie genader oor waterkrisis in Witrivier
Torr verduidelik dat hulle drie waterbronne het, waarvan daar tans slegs een ten volle operasioneel is.
“Dit is heeltemal te min om in die dorp se vraag te voorsien”, sê hy.
Luister:

Volgens Torr skrei Witrivier se gebrekkige water selfs voor beurtkrag se terugkeer ten hemele.
Luister hier:

*Die woordvoerder van Mbombela-munisipaliteit, Joseph Ngala, is genader vir kommentaar wat bygewerk word sodra dit ontvang word.


×