100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Tweede brand in wildtuin ondersoek

Written by on September 14, 2020


Die wildtuin het gewaarsku teen bespiegeling na ‘n tweede brand binne ‘n week in kampe in die park uitgebreek het.
Die brand wat Maandagoggend by Berg-en-dal-kamp se restaurant in die Krugerwildtuin ontstaan het, is ‘n paar ure later geblus.
Woordvoerder van die wildtuin, Ike Phaala, het bevestig dat dit om ongeveer 10:00 in die kombuis ontstaan het.

Die restaurant was in gebruik.
Boukontrakteurs wat elders in die kamp met restourasiewerk besig was, kon daarin slaag om saam met werknemers van die kamp die vlamme onder bedwang te bring en te verhoed dat dit na ander geboue versprei.
Dele van die kombuis en eetkamer is beskadig. Niemand is beseer nie.
Die oorsaak van die brand word amptelik ondersoek, asook dié van die brand wat Woensdagaand dele van Letaba-kamp verswelg het.
Die winkel in die kamp en naburige televisiekamer vernietig. Daar word vermoed dat die brand in die winkel se stoorkamer begin het.
Toeristeverblyf is glad nie geraak nie en niemand is beseer nie.
Phaala sê hulle beskou beide brande as ‘n ongeluk vir nou.

“Ons wil nie spekuleer nie, ons sal wag vir die uitslag van die amptelike ondersoek,” sê hy.
Die ondersoek na die Letaba-brand duur voort. Volgens Phaala het Phalaborwa se brandweer forensiese ondersoekers uitgestuur en het die versekeraars reeds hul verslag saamgestel.
Gebruikers op sosiale media het egter te kenne gegee hulle glo daar is ‘n slang in die gras, dat twee brande binne dae van mekaar uitbreek.
Phaala sê dit is nie ongewoon vir brande om nou en dan in die park te ontstaan kort na die winter, hetsy in die veld of in kampe, nie.
“Sosiale media is ‘n eggokamer van mense wat dieselfde dink en wat altyd iemand soek om te blameer.
“Ons gaan nie spekuleer tot ons seker is wat dit veroorsaak het nie. Ons gaan nie vinger wys nie. Ons vra dat mense geduldig wag vir die uitslag van die amptelike ondersoek.”


×