100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vriendelike Fanie groet NHS

Written by on September 8, 2020

Hoërskool Nelspruit (NHS) se algemene assistent, Fanie Themba, het na 36 jaar by die skool afgetree.
Pligsgetrou en altyd vriendelik het hy hard gewerk aan verbeteringe op die skoolterrein sedert 1984.
Skoolhoof Johan Hattingh sê hy het baie groot waardering vir Fanie se karakter – ‘n eerlike, toegewyde werknemer wat te alle tye die belange van die skool op die hart gedra het.
“Fanie het die konsep van uitnemendheid verstaan en dit is lekker om te getuig dat hy net so trots op die skool is as die res van die personeel.”
Sommige personeel onthou hom van toe hulle nog self op die skoolbanke gesit het.
Theresa de Wet, die skool se ontvangsdame, het vir agt jaar saam met hom gewerk.
Sy beskryf hom as ‘n man wat ‘n passie vir sy werk gehad het, van water in die ketel gooi vir koffie vir die personeel tot klaskamers oopsluit, gras sny en vele ander take.
“Dit het altyd vir my gevoel of ons twee in kompetisie was wie eerste by NHS kan wees om die voordeur oop te sluit.”
Themba sê baie voormalige leerlinge onthou hom steeds, maar hy het uiteindelik besluit om ‘n bietjie te gaan rus.

“Ek gaan almal mis. Ek wil graag vir almal dankie sê vir die mooi jare wat ons saam gewerk het.”
Om die leerders nie meer te sien nie, gaan beslis vir hom ‘n groot leemte laat.
Hy sê dat die Saterdag-sportgeleenthede een van vele hoogtepunte vir hom by die skool was.
Een van die geleenthede wat hy nooit sal vergeet nie, is die dag wat hy sy troufoto’s voor die seunskoshuis laat neem het met die pragtige tuine as agtergrond vir die pasgetroude paartjie.

Foto: Hennie Homann


×