100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vlak 10 vloed-waarskuwing bly in plek in die Laeveld

Written by on January 25, 2021

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) se vlak 10-waarskuwing vir vloede is steeds in plek in die Laeveld, na tropiese storm Eloise Sondag báie swaar reën veroorsaak het.
Bome is omgewaai, en paaie het oorstroom en is beskadig. In Bosbokrand is verskeie huise erg beskadig.


Die Elandsvallei-pad van die N4 is gesluit, weens skade aan die pad. Motoriste kan Schoemanskloof gebruik.
Die Krugerwildtuin het vanoggend ook Krokodilbrug gesluit weens die rivier wat oorstroom. Die Punda-Shingwedzi-teerpad is intussen heropen na die watervlakke gedaal het.
Die Mpumalanga toerisme- en parkeraad (MTPA) het ook die Blyderivier-natuurreservaat gesluit. Swadini, Bourke’s Luck, die Drie Rondawels, God’s Window en Pinnacle is toe.
Mbombela- en Thaba Chweu-munisipaliteite ervaar ook sedert gister kragonderbrekings.

Eskom het in ‘n verklaring aangedui dat hulle weens oorstromings en bome wat omgewaai het, eers Maandagoggend sal kan bepaal wanneer hulle met herstelwerk sal kan begin in Sabie, Graskop en Hazyview.
Daar word vandag nog reën in die hele Laeveld-area verwag. Volgens senior weervoorspeller by die SAWD, Puseletso Mofokeng, behoort dit egter ‘n normale hoeveelheid reënval te wees, maar kan dit steeds vloede veroorsaak omdat dit reeds so baie gereën het.
Die vlak 10-waarskuwing bly dus vir eers in plek. Dit sal later vandag na verwagting afgradeer word, volgens Mofokeng.

“Enige hoeveelheid reën kan nou vloede veroorsaak,” sê hy.
Mense is aangeraai om eerder binneshuis te bly en van die paaie af te bly. Moet ook nie riviere of strome wat meer as enkeldiep is, probeer oorsteek nie.
Sou jy in jou voertuig vasgekeer word, verlaat dit en klim na hoër grond. Verwyder waardevolle besittings in jou huis na ‘n vlak bo die verwagte vloedvlak.


×