100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vermeende tolhek-bedrieërs in die hof

Written by on March 11, 2021

Mbongiseni Kenneth Madonsela (27) het gister saam met Thembi Pretty Qwebu (30) in die Belfast-landdroshof verskyn.
Hulle word daarvan aangekla dat hulle na bewering bedrog gepleeg het met kredietkaarttransaksies by die Machado-tolhek op die N4.
Volgens die Valke se woordvoerder, kapt. Dineo Sekgotodi, is daar na raming meer as R100 000 wat aan TRAC verskuldig was, so verloor.

Madonsela is ‘n werknemer van Emakhazeni-munisipaliteit wat by Waterval Boven gestasioneer is. Hy is Dinsdag deur die Valke in hegtenis geneem.
Madonsela sou Qwebu glo voorsien het van kredietkaarte wat op ‘n bedrieglike wyse bekom is van verskeie banke.
Qwebu het by die tolhek gewerk en is reeds in Desember aangekeer deur die Valke se eenheid vir ernstige kommersiële misdaad.
Sy het glo die kredietkaarte gebruik om motoriste se tolgelde te betaal, en hul kontant in haar sak gesteek. Sy is vasgetrek toe sy glo nie die maandelikse fooi op ‘n kaart betaal het nie, en die krediet het opgeraak.
Die bank het kennisgewings daaroor aan TRAC gestuur, wat ‘n interne ondersoek geloods het.
Een van die banke het ook deur ‘n interne ondersoek vasgestel dat onwettige transaksies plaasvind by die betrokke tolhek.
Die saak is na die Valke verwys vir verdere ondersoek. Hul ondersoek het na Madonsela gelei.
Madonsela is gister borgtog van R1 000 toegestaan. Qwebu is ook uit op borgtog.
Die saak is uitgestel tot 21 April vir verdere ondersoek.


×