100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Verdagte in hof na man koeëlreën oorleef

Written by on December 1, 2023

‘n 32-jarige man verdagte verskyn vandag in die Nelspruit-landdroshof na ‘n rooftog waartydens ‘n man Woensdag ‘n koeëlreën oorleef het en van kontant beroof is.

Volgens die polisie het hy saam met ‘n familielid teruggekeer van die bank waar hy die kontant onttrek het, toe hulle ‘n VW Polo sy voertuig naby ‘n landgoed in Mbombela verbygesteek en sy pad versper het.

Sowat drie gewapende verdagtes het uit hul voertuig geklim terwyl hulle lukraak skote afgevuur het.

Die twee slagoffers is uit die voertuig gedwing, maar is nie in die koeëlreën gewond nie.

Die rowers het met die kontant van die toneel gevlug.

Die saak is by die polisie aangemeld en die inligting oor die voorval is onder wetstoepassingsagentskappe versprei.

Die Polo is omstreeks 15:30 naby die Universiteit van Mpumalanga opgemerk deur lede op patrollie.

‘n Jaagtog het gevolg tot by KaNyamazane waar een van die verdagtes uit die voertuig geklim en probeer vlug het oor ‘n muur.

Hy is egter in ‘n hoek vasgekeer.

Polisielede het ook ‘n ongelisensieerde pistool met ammunisie herwin.

Twee mans is ook ondervra i.v.m. die roof.

Die ondersoek duur voort.

Man ongedeerd in koeëlreën na rowers hom van kontant beroof in Mbombela, 29 November 15:20

‘n Man wat na vermoede van die bank deur vermeende rowers agtervolg is, is ongedeerd na hulle sy luukse voertuig vol koeëls geskiet het in Mbombela vanmiddag.

Volgens Emer-G-Med het hul paramedici op die toneel bevestig dat hy nie gewond is nie.

Die woordvoerder van Emer-G-Med, Kyle van Reenen, sê verskeie hoë-kaliber rondes is gebruik.

Hy sê die man is na bewering deur ‘n onbekende aantal gewapende rowers gestop.

Hulle het op sy voertuig losgebrand en met ‘n onbekende, maar groot, bedrag kontant gevlug.

Sien ook: RecruitAgri vier gegradueerdes


×