100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Toerisme herstel nog geensins nie

Written by on October 21, 2020

Plaaslike toerisme sê hulle het nog geen herstel gesien sedert inperking begin lig het nie.
Oupa Pilane, die voorsitter van die Suider-Afrikaanse Toerismediensvereniging (Satsa) in Mpumalanga, kritiseer reeds maande die regering se lukrake benadering tot inperkingsregulasies.
Sy kernargument is dat hulle regulasies opstel sonder om met die private sektor te konsulteer. Dit het ernstige, negatiewe gevolge.
“Dis hartseer dat die private sektor glad nie gekonsulteer word nie. Daar is tog geen manier waarop jy regulasies kan skep sonder om die mense wat daardeur geraak word, te konsulteer nie.”
President Cyril Ramaphosa se ekonomiese herstelplan, wat hy verlede week voorgelê het, is Woensdag in die parlement gedebatteer.
Die beplande infrastruktuurprojekte maak almal bly, maar die regering neem werkskepping grootliks op hulself.
Frans Cronjé van die Instituut vir Rasseverhoudinge het Sondag in Rapport geskryf dat die plan absoluut nutteloos is, behalwe dat dit die land se verval so sal verhaas dat ‘n regime-verandering dalk binnekort teweeggebring kan word – sodat die land werklike oplossings kan begin vind.
Pilane sit ook met sy spreekwoordelike hande in sy hare. “Die regering sê al die regte dinge in die openbaar, maar hulle help die toerismebedryf glad nie.

Toerisme is een van die grootste werkskeppers en ekonomiese drywers, in die land, en in die Laeveld.
“Die meeste toerismebedrywe handel onder 40%. Meer as 2,4 miljoen mense in die land het hul werk verloor. Mense se salarisse is ingeperk.
Die feit is dat die plaaslike mark nie geld het nie. Daar is geen manier dat die plaaslike mark (vir internasionale reisigers) kan opmaak nie.”
Internasionale reisigers word dus benodig. Sedert Maandag word reisigers van “net” 22 lande in Suid-Afrika verbied.
Die nuwe, verkote, lys is deur die ministers van gesondheid, binnelandse sake en toerisme bepaal om “‘n balans se handhaaf tussen die red van lewens en beskerming van lewensonderhoud”.
Reisigers van lande soos Brittanje, Frankryk en die VSA bly op die lys. Hulle is baie belangrik vir Mpumalanga. .
Wêreldwyd het die Covid-19-pandemie die bedryf lamgelê. Maar, wat Pilane die meeste pla is dat die private sektor geen sê het in beleid nie.
“Ons is bekommerd dat regeringsamptenare deur niks geraak word nie,” sê hy. “Hulle ontvang nog ons belasting, hulle word vol salarisse betaal. Vir hulle is die lewe normaal, en sommige het sommer by die regering gaan steel ook.
“Ons (as toerisme) is op ons eie en dit is ‘n ernstige uitdaging. Ons sukkel met die onsekerheid. Hul besluite verander elke dag. Ons weet nie wat om te doen nie.”
Innibos het vandag aangekondig dat hulle die beplande fees in Desember moes kanselleer. Dit is hoofsaaklik vir veiligheidsredes weens die virus.
Pilane gaan verder: “Die president het gesê venues mag 50% van hul kapasiteit vat. Maar, nee, hulle beperk dit dan tot maksimum 500 mense. Hoe verwag jy moet geleentheidsbeplanners dinge beplan?
“Wat hulle doen is verkeerd. Ons gaan die somer mis in terme van internasionale besprekings. Mense weet nie of, as hulle vandag bespreek, hul land weer môre verban gaan word nie.”
Die ekonomie ís pap. Mense het nie geld vir “luukshede” nie.
Troues word weer toegelaat, na verskeie seremonies tydens inperking uitgestel moes word.
Tog, vertel een trou-venue buite Mbombela wat eerder nie hul naam genoem wil hê nie, dat hierdie tyd van enige jaar gewoonlik hul besigste tyd is. Besprekings vir troues tot Desember is egter slegs “skaflik”.
“Mense het nie geld nie. Hulle het hul werk verloor of werk minder ure. Die meeste het hul beplande troues uitgestel na volgende jaar.”


×