100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Luister: Ma vertel hoe vermeende kapers dogter skiet

Written by on January 4, 2022

‘n Tienermeisie (14) is gister in haar been geskiet, terwyl sy saam met haar ma en boetie (11) op pad was terug huis toe van vakansie af in die Krugerwildtuin.
Die gesin van Pretoria het in Pretoriuskop gekamp en het die wildtuin by Numbi-hek verlaat.
Sers. Nanikie Nonyane, woordvoerder van die Masoyi-polisie, het bevestig dat die skietvoorval om ongeveer 12:45 gebeur het op die R538 by die taxi-staanplek in Mganduzweni Trust.
Melani de Beer (39) vertel sy het stadiger gery oor ‘n spoedhobbel toe twee onbekende mans asof vanuit nêrens verskyn het. Beide was gewapen met pistole en het op die kar begin skiet. Sy het weggejaag.
Luister hier na wat gebeur het:

Die aanvallers het verskeie skote afgevuur en onder meer die kar se regter agterband en windskerm getref, asook die dogter wat voor langs haar ma gesit het.
De Beer kon sowat 8 km verder ry en is toe deur ‘n verbyganger gehelp wat gesien het wat gebeur het.
Die koeël is deur haar kind se been. Sy is vanmiddag in Mediclinic Nelspruit geopereer en sal hopelik môre ontslaan word.

Verlede week is twee toeriste baie naby aan Numbi-hek so byna beroof. Volgens Nonyane was die paartjie van Durban op pad na die Krugerwildtuin.
Sowat 500 meter voor Numbi-hek is ‘n voorwerp in die pad geplaas om hulle te forseer om te stop. Die bestuurder het drie mans sien nader kom, waarvan een gewapen was, en het weggejaag.
Die aanvaller het ‘n skoot afgevuur, wat die kar se windskerm getref het. ‘n Poging tot roof is aangemeld.
Die polisie het ‘n mannejag geloods na die De Beers se vermeende kapers. Enigiemand met inligting is gevra om die ondersoekbeampte te kontak by 072-233-7530.


×