100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Sue Howarth se moordenaars sit lank

Written by on July 4, 2022

Twee broers is swaar vonnisse opgelê vir die moord in Februarie 2017 op Sue Howarth (65) in Dullstroom.
Sy en haar man Robert Lynn (73) is die aand op hul plaas aangeval terwyl hulle geslaap het.
Daar is destyds berig hoe die twee Britte, beide pensioenarisse, met ‘n blaasvlam gemartel is voor hulle in hul Nissan-bakkie gelaai is, met plastieksakke oor hul koppe, geskiet is en gewond langs ‘n pad afgelaai is.
Lynn kon homself bevry en sy vrou opspoor. ‘n Verbyganger het hulle hospitaal toe geneem waar Sue later dood is.
Volgens die polisie is drie verdagtes ‘n week later in Belfast aangekeer vir veediefstal. Hulle het een van die egpaar se selfone in hul besit gehad. Hulle is later positief met die aanval verbind.
Polisiewoordvoerder, brig. Selvy Mohlala, sê een aangeklaagde, Lucas Makua, het verlede jaar skuldig gepleit op die klagte van moord en poging tot moord. Hy is intussen oorlede.
Nkosinathi Yika (28) en Themba Yika (38) is Donderdag in die Mpumalanga Hooggeregshof in Breyton tot 37 jaar agter tralies gevonnis. Twintig jaar is vir haar moord, 12 jaar vir poging tot moord, 15 jaar vir huisbraak, vyf jaar vir die afvuur van ‘n vuurwapen in die openbaar, vyf jaar vir diefstal en vyf jaar vir die ontvoering van elke slagoffer.
Die vonnisse vir huisbraak, afvuur van ‘n wapen en diefstal word saam met die 20-jaar vir moord uitgedien, en beide vonnisse vir ontvoering word samelopend uitgedien.
Themba Yika is tot ‘n addisionele vyf jaar gevonnis vir besit van ‘n ongelisensieërde vuurwapen en drie jaar vir besit van ammunisie.


×