100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Silulumanzi waarsku oor watertekorte weens beurtkrag

Written by on September 13, 2022

Silulumanzi waarsku dat die voortslepende beurtkrag watertoevoer in Mbombela affekteer. Eskom het aangekondig dat hy noodgedwonge fase 4 beurtkrag moet instel vanaf 10:00 vanoggend tot 05:00 Donderdag.

Volgens Silulumanzi het produksie vanaf die Kanyamazane-waterwerke beduidend afgeneem met die Pienaar-pomplyn wat van ‘n gemiddeld van 40 ML per dag na 27 ML afgeneem het en Kanyamazane vanaf 12 ML tot 7 ML.

Die watervoorsiener waarsku dit sal watertekorte veroorsaak omdat die hospitaal prioriteit neem. Wateraanvullings na Witrivier word ook geraak en inwoners is aangemoedig om water spaarsamig te gebruik.

Woordvoerder, Richmond Jele het vir Amanda gesê enige beurtkrag of kragonderbrekings affekteer hul vermoë om water by verbruikers uit te kry. Luister weer hier.

Die masjinerie waarmee water onttrek, gesuiwer en gepomp word, is te groot vir gewone kragopwekkers, so Silulumanzi span hul beskikbare kragopwekkers in om te verseker rioolwerke gee nie in nie.

Die reservoirs in Nelspruit self is groot genoeg om sowat 24 tot 48 uur se water te stoor. Areas buite die stad, soos Witrivier, Kanyamazane, Pienaar, Matsulu en Kabokweni het egter nie dié grootte infrastruktuur nie, met die gevolg dat hulle baie ernstig geraak word deur watertekorte.

Onwettige aansluitings raak die waterdruk verder wat bydra tot die uitdaging om alle areas van water te kan voorsien.

Nog ‘n probleem is dat wanneer die waterwerke elektrisiteit het, ‘n woonbeurt beurtkrag ondervind en andersom, met die gevolg dat water nie aan reservoirs voorsien kan word nie.

“Ons het al gevra dat die waterwerke, ‘n noodsaaklike diens, van beurtkrag kwytgestel word,” sê Jele.


×