100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Seder val in Witrivier

Written by on July 14, 2021

‘n Bekende sakeman en jarelange inwoner van Witrivier, Drik van Staden, is verlede week oorlede nadat hy Covid-19 opgedoen het.
Drik (66) en sy vrou van 45 jaar, Marie, was bekend daarvoor dat hulle baie betrokke was by die gemeenskap. Hul seun, Drikkie, sê hy kan boeke vol skryf oor sy pa wat hy as ‘n seëning vir die wêreld beskryf het.
“Van een ding is ek seker: Op 8 Julie 2021, om ongeveer 11:00, het die poorte van die hemel oopgegaan en die engele het die basuin geblaas en die rooi tapyt is uitgerol en Jesus het vir Drik van Staden kom haal.”

Hy het op die plaas Shangrila saam met sy sibbe Johan, Daan, Gerrie, Sarie en Sienie grootgeword. Laerskool Drakensberg op Bosbokrand was die klein skooltjie waar legendes gevorm is in dié dae en op hoërskool was hy ‘n briljante flank vir Hoërskool Rob Ferreira. Hy het iewers in dié tyd ook vir Suid-Oos gespeel.
Na sy diensplig het hy hom as ‘n meulmaker bekwaam, en is toe terug na Bosbokrand waar hy met patats geboer het. “Ek dink sy grootste roeping was die kerk daar. Tussen Bosbokrand en Graskop het my pa groot werk gehad in die NG-gemeente. Ek onthou nog hoe ons sommige Sondae Graskop toe moes ry vir kerk. Ander Sondagaande het die dominee kom preek in die einste Drakensberg skoolsaaltjie waar my pa skoolgegaan het.
“My pa gaan boer toe met tabak en patats saam met sy pa en twee ouer broers op die plaas Skoukop op Plaston (dit is nou KMI-lughawe). Ek is nou onseker oor presies wanneer, maar ek dink hy is in 1985 of 1986 as die beste tabakboer aangewys.
Drikkie het in 1988 sy pa se Bybel gesteel. “Dit was spesiaal vir my omdat hy dié jaar die amp van diaken in die NG Kerk Witrivier aanvaar het.”
Na 11 jaar neem Drik weer sy ambag op en begin hy Drik van Staden (DVS) Elektries. “Hy en sy kliënte het almal spesiale verhoudinge gehad en veral vertroue in mekaar het baie saak gemaak. My pa het geglo dat geen werk te klein was en geen werk te groot was om te doen nie.
“Hy het letterlik landmerke agtergelaat: geboue by die nuwe universiteit, vleuels in Rob Ferreira-hospitaal, Macadamia Village en uitbreidings in Witrivier, Nelspruit, Polokwane en Tzaneen.
“Wat uitstaan is dat my pa nooit in kompetisie met ander kontrakteurs was nie, hy het altyd gesê die son skyn vir almal.”
Hy onthou hul huwelik as besonders en sy ouers as altyd daar vir hulle – by sport, geestelike byeenkomste en op emosionele vlak.
Met sy kleinkinders was Drik betrokke by skooltake en het hy hulle leer stoutwees. “Hy was die drie prinsessies se ridder op ‘n wit perd en die een rowwe bul sou nooit kon klip gooi of skiet as Oupa hom nie so mooi geleer het nie.”
Hy was baie meer as die “rowwe dinge” wat ‘n man moet wees – hy was ook geduldig, liefdevol en sagmoedig.
“My pa het mense gehelp waar hy kon. Verskeie het na my toe gekom om te sê hoe dankbaar hulle is dat my pa ‘n invloed op hul lewens kon hê. Hy het mense uit kraters uit gehelp en van hulle welaf sake-eienaars gemaak. Hy het huishoudings, huwelike en mense gered. My pa het siele gewen vir die ewige lewe.
Drik was betrokke by die begin van Radio Laeveld, hy was betrokke by skole, kerke, die Geloftefees en jeugaksies. “My pa het nie gevra watter skool, sportklub of kerk nie, solank hy kon help om die gemeenskap op en uit te bou en om kwaliteit tot die lewe te voeg.”
Sy leuses was: Bepaal jou by jou eie saak en doen altyd jou beste, wees altyd eerlik en opreg, en wees lief vir jou mense, vrees die Here en wees lief vir God.

‘n Roudiens word Vrydag om 11:00 vir hom gehou by die Afrikaanse Protestante Kerk in Witrivier. Weens Covid-regulasies sal almal dit nie by kan woon nie, maar dit sal regstreeks op YouTube gestroom word.


×