100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Rooilys laat toerisme in Laeveld steier

Written by on December 1, 2021

Plaaslike toerisme-operateurs is verpletter deur die reisverbod wat verskeie lande op Suid-Afrika geplaas het, na die jongste Covid-19-variant, Omikron, deur Suid-Afrikaanse wetenskaplikes geïdentifiseer is.
Oupa Pilane van Kruger Laeveld Toerisme (KLT) sê dat veral safari lodges op internasionele besoekers staatmaak en ‘n goeie Desember nodig gehad het.
Dit is egter nou van die baan met nog werksverliese in die vooruitsig.

Volgens hom is besoekers uit die Noordelike halfrond gaande oor Suid-Afrikaanse somers en het hulle net die dag na die land onlangs van Brittanje se rooilys verwyder is, besprekings begin maak.
Nou het baie Britte, Europese burgers en Amerikaners hul beplande vakansies gekanselleer. “En dit weens ‘n besluit wat nie in die wetenskap gesetel is nie,” sê hy.
“Dit maak dood wat oor is van die safari lodges en klein sakeondernemings.”
Volgens hom was van dié lodges tot 80% vol bespreek met internasionale besoekers voor die jongste reisverbod.
“Mense wat teruggeroep is om te gaan werk, is nou weer huis toe gestuur. Ons is terug by die begin.”
Pilane voer aan dat die ernstige onsekerheid wat die skep, ook nadelig is vir die land se aansien.
“Verbeel jou, jy het bespreek, en dan word jy vertel, sonder om enige tyd gegun te word, dat al hierdie voorwaardes gaan geld vir jou om terug te kan keer huis toe. Jy sal nooit weer terug wil kom nie!”
Volgens hom moet die virus op beter maniere bestuur word.
“Ons almal weet nou daar is die virus. Om mense te verbied om te reis los nie die probleem op nie. Eerder as om almal te straf, vra dalk eerder wat doen ons met mense wat nie ingeënt is nie? Die enigste rede vir inperkings is om druk op gesondheidstelsels te verminder. Ingeënte mense plaas nie soveel druk op die stelsel nie.”
Die sektor het die land se regering geloof dat plaaslike reis steeds toegelaat word. “Ons sien baie mense wat veral oor naweke in ons provinsie reis en ons hoop om meer te sien in Desember.”
Saam met die Mpumalanga toerisme- en parke-agentskap (MTPA) het KLT promosieveldtogte in Gauteng (waar sowat 60% van besoekers vandaan is).
Tog kan Mpumalanga se inwoners ook help en het Pilane mense aangemoedig om die vakansietyd hul eie omgewing te verken.
“Of jy nou vir ‘n naweek of selfs ‘n dag jou eie provinsie gaan verken, maak dit tog ‘n verskil in daardie ekonomie.”


×