100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Rokers woedend oor regering se handomkeer

Written by on April 30, 2020

In haar toespraak om meer inligting oor die riglyne wat sal geld wanneer Vlak 4 van die inperking op 1 Mei betree word te verskaf, het Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma op Woensdagaand ’n opskudding veroorsaak met die aankondiging dat die verkope van sigarette en ander tabakprodukte (insluitend e-sigarette) steeds onwettig bly.

Dit is ʼn handomkeer van pres. Cyril Ramaphosa wat op Donderdagaand 23 April in sy televisieboodskap gesê het dat die verkoop van sigarette vanaf 1 Mei weer toegelaat sal word. Dlamini-Zuma het gesê hierdie besluit is geneem aangesien sowat 2000 mense beswaar gemaak het teen die opheffing van die verkoop van sigarette.

Dis nie net die rokers wat ontsteld is oor hierdie ommeswaai nie:

  • “Ek rook nie, maar wil graag my president ernstig opneem as hy iets sê”.
  • Daar was ʼn direkte TV-uitsending van die president wat gesê het sigarette mag verkoop word vanaf Vrydag. Beteken sy woord dan niks?”, en
  • “Ek is nie ʼn roker nie maar het ons sopas ‘n regime-verandering gesien? Hoe op aarde kan ‘n minister haar president se woorde omdraai? Was hy maar nog eintlik heeltyd die marionet van die ware mag, met Magashule, Dlamini-Zuma en ander wat sy toutjies trek?”, is van die kommentaar wat rondvlieg.

Ekonome het lankal gewaarsku dat ʼn verbod op die verkoop van sigarette die land se ekonomie ernstig knou. Yusuf Abramjee van Tax Justice South Africa het reeds vroeg in April gewaarsku dat daar weens die verbod op sigarette elke dag ten minste R35 miljoen verlore gaan weens aksynsbelasting wat nie betaal word nie.

Rokers waarsku ook op Facebook dat hulle net sal voortgaan om onwettige sigarette te koop. Al wat dus hierby gaan baat is die smokkelhandelaars. Die ekonoom Mike Schüssler sê in sy reaksie op Dlamini-Zuma se toespraak in ʼn berig op Netwerk 24 dat die regering nou die ekonomie probeer mikrobestuur en dit kan doodeenvoudig nie werk nie. Hy het bygevoeg dat miljarde rande daagliks in die ekonomie verlore gaan weens die inperking. “Ek hou nie daarvan om dit te sê nie, maar die regering is van sy sinne beroof,” het Schüssler in soveel woorde gesê.

Lees meer:

Expensive habit: Cigarette ban costing government R35 million a day


https://www.netwerk24.com/Sake/Ekonomie/regering-is-van-sy-sinne-beroof-se-mike-schussler-20200429


×