100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Registrasie vir die 2022-skooljaar in Mpumalanga is oop

Written by on June 3, 2021

Mpumalanga se onderwysedepartement het ‘n beroep op ouers en voogde gedoen om hul kinders in te skryf vir die 2022-skooljaar. Registrasie is reeds oop en sluit op 31 Augustus.
LUR vir onderwys, Bonakele Majuba, sê dit is belangrik om vroegtydig aansoek te doen vir plekke in skole, sodat alle kinders voor die 2022-skooljaar afskop geplaas kan word. Alle nodige leermateriaal kan dan ook voortydig aangeskaf word, om ‘n gladde afskop aan 2022 se skooljaar te verseker in Januarie.
Majuba vra dat ouers eerder hul kinders in skole sit naby aan waar hulle woon, om ‘n toeloop na sekere skole te verhoed. Aan die ander kant, gee hy toe dat verskeie ouers verkies om hul kinders te plaas in skole naby aan waar hulle werk.

“Dit is nie ‘n probleem nie, solank hulle die vervoer self kan reël. Ons, as ‘n departement, is nie by magte om kinders na vêr skole te vervoer wanneer daar naby een is wat plekke beskikbaar het nie.”
Die kind se amptelike geboortesertifikaat, inentingsertifikaat en jongste rapport moet by aansoeke ingesluit wees.
Tog mag geen kind toegang geweier word op grond daarvan dat hul ouers nie skoolfonds kan betaal, dat hy of sy nie ‘n geboortesertifikaat het nie, of as hulle burgers van ander lande is wat onwettig in Suid-Afrika is nie. Skoolhoofde moet in sulke gevalle alternatiewe vorme van identifikasie aanvaar, aldus die departement.
Daar word direk by die betrokke skole aansoek gedoen. Uiteraard is dit goed om by meer as een skool aansoek te doen, maar dan ook die departement te verwittig as die kind by een geholpe raak.
Sou jy enige probleme ondervind om jou kind te registreer, kontak die skoolhoof, die kringkantoor of die departement direk. Die tolvrye nommer is 0800-203-116.


×