100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Pumas-wedstryd teen Lions uitgestel na spelers positief toets vir Covid-19

Written by on November 13, 2020

Die Phakisa Pumas se Vodacom Super Rugby Unlocked-wedstryd Saterdag teen die Emirates Lions is uitgestel.
Volgens SA Rugby is die besluit Vrydagoggend geneem, toe nog twee Pumas-spelers positief getoets het vir Covid-19.
‘n Speler het vroeër die week ook positief getoets. Al die spelers wat positief getoets het, het saam deelgeneem aan ‘n skrumoefening.
Die gevolg is dat verskeie voorspelers in kwarantyn geplaas is vir 10 dae.
Afrigter, Jimmy Stonehouse, sê die spelers is asimptomaties.

“Toe ons die toetse ontvang, het ons 48 uur teruggegaan om te sien met wie hulle in kontak was. Ons het ongelukkig ‘n skrumsessie gehad.
“Die voorry en slotte is geruil onder mekaar. Die hakers, stutte en slotte is nou in isolasie.
“Dit is vir ons baie sleg, want ons was goed voorbereid,” sê hy.
Die enigste ander wedstryd van die reeks wat tot dusver gekanselleer is weens die pandemie, was die einste Lions. Hul kragmeting teen die Toyota Cheetahs is op 24 Oktober afgelas, nadat verskeie Lions-spelers en afrigters positief getoets het vir die virus.
Die Pumas was veronderstel om hul Vodacom Super Rugby Unlocked-reeks op Vrydag, 20 November, by Loftus Versfeld af te sluit.
Die Carling Black Label Curriebeker skop die week daarna, op 27 November af. Die Pumas se eerste wedstryd sal sover weg teen die Cell C Sharks gespeel word.
SA Rugby het aangedui dat Saterdag se wedstryd tussen die Pumas en die Lions sowel as die Pumas se kragmeting teen die Vodacom Bulls volgende Vrydag herskeduleer sal word.
Die ander wedstryde gaan die naweek voort soos beplan. Die Tafel Lager Griekwas speel vanaand 19:00 teen die Sharks in Kimberley en die DHL Stormers Saterdag 19:00 teen die Cheetahs op Nuweland.


×