100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Pumas pronk in nuwe klere vir 2021

Written by on March 18, 2021

Die New Nation Pumas se uitrustings vir die 2021-rugbyseisoen is vanmiddag by Mbombela-stadion bekendgestel.
New Nation Construction (NNC) sal die span se titelborg wees vir die volgende twee jaar.
Volgens die uitvoerende hoof van Mpumalanga Rugby, Marius van Rensburg, is die klere van Volcano vanjaar meer modern: Die borge se kentekens is in die materiaal ingeweef en die snitte pas nouer.
Soos in die verlede is die tuistrui oorwegend pienk en die wegtrui grys. Volcano is reeds die afgelope drie jaar die span se klereborg.
“Ons is baie dankbaar dat hulle ‘n bietjie uit die boks uit gedink het om dit meer modern te maak vir ons. Hulle is ook ‘n jong maatskappy wat nog groei, soos die Pumas, so daar is baie sinergie tussen die twee.”
Van Rensburg voeg by dat dit vir hulle baie beteken dat die titelborg uit die Laeveld kom.

“Die afgelope jare was ons titelborge altyd van Pretoria of Johannesburg. Ek hoop dit wys ander plaaslike ondernemings dat hulle ook by ons kan betrokke raak.
“Die Pumas is op die einde van die dag ‘n plaaslike span,” sê hy.
Alec Groenewald, besturende direkteur van NNC, sê dit is vir hulle ‘n eer en voorreg om betrokke te raak.
“Ons is nog ‘n nuwe maatskappy en dit is moeilik om jou tot iets te verbind, maar ons is trots daarop om ‘n plaaslike span te ondersteun.

“Ek dink die veerkragtigheid wat julle die afgelope jaar gewys het in terme van finansiële struikelblokke, om sonder toeskouers te speel; al die uitdagings wat julle moes oorkom en die harnekkigheid wat julle gewys het – dit het ons aangetrek.”
Hoofafrigter Jimmy Stonehouse het die geleentheid gebruik om ook die kleiner borge te bedank vir hul bydrae.
“Die belangrikste is die hele groep. Almal se bydraes maak dit werk. Ja, ons het die geld nodig, maar vir die spelers om te herstel kom al die ander ook in. Ek kan nie genoeg dankie sê vir wat elkeen van julle vir ons doen nie.”


×