100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Provinsie begin ondersteuningsfonds vir toerisme betaal

Written by on April 29, 2021

Die eerste betalings aan begunstigdes van Mpumalanga se ondersteuningsfonds vir toerisme-ondernemings is gister gemaak.
Die provinsiale regering het R10 miljoen bewillig om die impak van die Covid-19-pandemie op die bedryf teen te werk. Dit word deur Mpumalanga se toerisme- en parke-agentskap (MTPA) bestuur.
Ses begunstigdes het die seremonie gister by eBundu bygewoon. Kingsley Lekhuleni is ‘n toeroperateur, Nobuntu Gwede, Andries Mabuza en Lungile Lusenga almal toergidse, Ntokozo Mbuyane werk in gasvryheid en Werner Rossouw is ‘n toerisme-graderings-assessor.

Die LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Vusi Mkhatshwa, het gesê toerisme, wat swaar deur die pandemie getref is, is noodsaaklik vir werkskepping en die provinsie se ekonomiese herstel en daarom moet die regering ingryp om die bedryf te red.
In totaal is 430 aansoeke ontvang. Vier kategorieë is reeds geproseseer. Dit is toergidse, gasvryheid, professionele jagters en toerisme gradeerders.
Ondernemings in verblyf kwalifiseer vir tussen R25 000 en R50 000, gasvryheid en reis vir R15 000 tot R35 000, individuele toergidse, professionele jagters en toerisme-graderings-assessors vir ‘n maksimum betaling van R10 000 en informele toerisme-verwante ondernemings vir ‘n maksimum eenmalige betaling van R7 000.

Volgens Mkhatshwa is 28 aansoeke afgekeur omdat hulle reeds uit die nasionale fonds voordeel getrek het. Hy sê ten minste 238 plaaslike ondernemings het reeds uit die nasionale fonds hulp ontvang van ongeveer R11,9 miljoen.
Die uitvoerende hoof van die MTPA, Johannes Nobunga, sê die fondse sal die begunstigdes help om te herstel van die uitwerking van die pandemie.
“Ons is vol vertroue dat die werk deur die MTPA se komitee binnekort afgehandel sal wees en dat alle kwalifiserende ondernemings hul fondse teen die middel van Mei sal ontvang.”


×