100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Protesaksie oor aanstellings in Thaba Chweu

Written by on July 7, 2023

Protesaksie oor aanstellings in Thaba Chweu-munisipaliteit (TCM) het die week in Lydenburg, Sabie en Graskop voortgeduur na lede van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) verlede Maandag begin betoog het voor munisipale kantore.
Hulle eis dat die burgemeester van , Friddah Nkadimeng, en die waarnemende stadsbestuurder, Herns Trower, verwyder word of bedank.
DA-raadslid, Marius Opperman, sê lede van Nehawu het na ‘n spesiale raadsvergadering Maandag by die protesaksie oor aanstellings aangesluit.

Die DA het vroeër verlede maand kapsie aangeteken teen die beweerde onreëlmatige aanstellings van mense in die munisipaliteit.
Volgens Opperman is waarnemende direkteure vir korporatiewe dienste en gemeenskapsdienste aangestel en is die kontrak vir die huidige waarnemende hoof van plaaslike ekonomiese ontwikkeling verleng na alle opposisie raadslede uitgestap het “uit protes teen die wettigheid van sekere items wat deur die waarnemende munisipale bestuurder voorgestel is”.
Hy sê die besluite is deurgevoer sonder ‘n kworum van die raad deur slegs 13 ANC-lede.

Volgens Opperman het die ANC Maandag die DA se vier gekwalifiseerde en ervare kandidate vir stadsbestuurder verwerp en verkies om saam met die Departement van Samewerkende Regering te werk om ‘n kandidaat af te vaardig om as stadsbestuurder waar te neem.
Die LUR vir Samewerkende Regering het Nkadimeng verlede week opdrag gegee om Ehlanzeni-distrik te vra om beamptes te ontplooi om waar te neem in die posisies omdat iemand nie vir langer as drie maande in ‘n pos mag waarneem nie.
Opperman voer ook aan dat die voormalige stadsbestuurder, Siphiwe Matsi, weer ‘n onderhoud gedoen het vir dié pos.
Sy het in 2022 namens TCM skuldig gepleit op verskeie oortredings van die Wet op Omgewingsbestuur en die munisipaliteit is beboet.
Lees meer: Thaba Chweu-munisipaliteit beboet vir oortreding van die Wet op Omgewingsbestuur
ActionSA in Mpumalanga het ook gevra dat die LUR Thaba Chweu- en Msukaligwa-munisipaliteite onder administrasie plaas na die ouditeur-generaal (OG) bevind het beide plaaslike owerhede het hul begrotings oorspandeer sonder om hul teikens te behaal.
Volgens Thoko Mashiane, die provinsiale voorsitter van ActionSA, het Thaba Chweu 104% van sy begroting spandeer om 29% van sy basiese dienste- en infrastruktuurteikens te bereik.


×