100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Polisie doen beroep op gemeenskap om kinderverkragters te help aankeer

Written by on June 19, 2020

Die polisie in Mpumalanga ondersoek verskeie voorvalle van die verkragting van kinders.
In die jongste voorval is ‘n 13-jarige meisie Woensdag in Saselani naby Bosbokrand verkrag. Volgens die polisie moes sy die buitetoilet gebruik terwyl haar ouma nog geslaap het.
Op pad daarheen het sy twee swaar gewapende mans teëgekom. Hulle het haar beveel om nie te skree nie terwyl hulle ‘n televisiestel uit ‘n ander huis op dieselfde erf gesteel het.
Hulle het haar daarna verkrag.
Volgens polisiewoordvoerder, brig. Leonard Hlathi, volg hulle leidrade op, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

 

Vroeër die maand, op 8 Junie, is ‘n tweejarige dogtertjie in Mashishing deur twee mans verkrag.

Die vermeende verkragter van ‘n agtjarige dogtertjie in Barberton is intussen aangekeer.
Volgens Hlathi het die voorval op 13 Junie plaasgevind. Die 21-jarige verdagte het by ‘n sorgsentrum waar sy gewoon het, gewerk.
Die man is kort nadat die voorval aangemeld is, in hegtenis geneem. Hy het Donderdag in die hof verskyn.
Die saak is uitgestel tot 26 Junie wanneer hy formeel om borgtog aansoek sal doen.
Die polisie het die gemeenskap gevra om hulle met inligting te help wat die skuldiges sal help aankeer.

Die provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, genl. Mondli Zuma, het die voorvalle as gruwelik bestempel.
“Hierdie hartelose kriminele maak voortdurend op kwesbare mense jag en ons kan nie toelaat dat sulke individue onskuldige vroue en kinders terroriseer nie.
“Hulle is aggressiewe mans wat uit die samelewing verwyder moet word, aangesien hulle gevaarlik is en geen respek vir menselewens het nie.”
Enigiemand met inligting kan die polisie kontak by 086-001-0111. Alle inligting sal as streng vertroulik hanteer word.

 


×