100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Plaaslike toerisme vra dat mense by Covid-19-reëls hou

Written by on December 16, 2020

‘n Ongewone feestyd skop vandag af. Strande is toe, en die aandklokreël is ‘n bietjie vervroeg, maar vir Mpumalanga-toerisme is die jongste verskerping van Covid-19-regulasies nie die slegste nuus nie.
Oupa Pilane van die Kruger-Laeveld-sakekamer en Satsa sê namens die private sektor dat hulle dankbaar is geen area in die provinsie is ‘n brandpunt nie.
Mpumalanga het teen Maandag 648 aktiewe gevalle gehad, teenoor 399 ‘n week tevore.
Tog, voeg Pilane by, is hulle bekommerd oor mense se veiligheid.
“Ons doen ‘n beroep op die eienaars van alle ondernemings om seker te maak dat ons by die reëls hou om die verspreiding van die virus hok te slaan. Ons wil nie ‘n volgende superverspreider wees nie.

“Mpumalanga-toerisme stem saam dat die afdwing van die regulasies bo-aan ons agenda moet wees.
“Dit gaan nie net oor ons werke en ondernemings nie,” sê hy. “Ons moet mense op ons persele beskerm. Lewens kom eerste terwyl ons verstaan ons is almal in die rooi en moet herstel.
“Dit is nie te veel gevra dat jy seker maak mense dra maskers en hou veilige afstande en kan hul hande ontsmet nie.”
Hy het ook ‘n beroep gedoen op wetstoepassers om die reëls af te dwing en stappe te neem teen diegene wat versuim om dit na te kom.
Die polisieminister, gen. Bheki Cele, het gister gesê ondernemings wat regulasies oortree sal R5 000 beboet word, en daarna sal hulle gesluit word: sewe dae vir ‘n tweede oortreding, en daarna vir drie maande.
Pilane voeg by dat hulle tevrede is met besprekings tot dusver vir die feesseisoen in die Laeveld se dorpe wat grootliks van toerisme afhang soos Graskop en Hazyview. Private verblyfplekke is tussen 80% en 85% vol.



×